Nuus van die Stad van Voëls
'n Meisie het in 'n diep put geval,
maar sy is gered.
Sy is nou gesond.
ek het toe nog nie veel geweet van metafore nie
maar nou kan ek sien ek moes in die diep put val
om te onthou, om te weet wat die waarheid
van my kleintyd se traumatiese gebeure was
en jare der jare later my jarelange swaarkry
miskien is dit onmoontlik vir my
om die omvang daarvan te begryp
mens ly mos meestal in stilte
ek moes maar net, vir myself
opbeur na positiwiteit
deur al die verliese
dit gaan rustiger nou
ek het aangepas by my eensame bestaan
my ontvlugtings vat my weg daarvandaan
die dogtertjie daar in verre Indië
is gered uit die diep put
sy het seker toe ook met post-trauma gesit
dit het my geraak
toe ek dit gelees het
toe het ek stories opgemaak
my verliese is in verhale verwerk
so tussendeur my musiek
en die bietjie nuus wat ek kan inneem
te veel en ek ontstel my te veel
so ek weet nie eintlik
wat in die wêreld aangaan nie
ek leef in my eie bestaan
ek lees baie en kry antwoorde aanlyn
soos dat ek aan ligsensitiwiteit ly
ek reis na verre lande
ek kom baie te wete
ek kry elke dag inligting
op die internet
dit maak meestal sin
dan voel ek opgelos
en vervul
dit is moeilik om vrede te maak met die dood
maar ek het lankal daar gekom
en dink nie meer daaraan nie
in aanvaarding en in mediterende
wegkom van emosionele pyn af
ek geniet weer my klein lewe
soos almal wat voltooid voel
op amper 65
ek verstaan myself
baie baie beter
so alles is nou oukei
2025 was goed vir my
so gly my dae verby
ek gedra my versigtig en stil
so vloei my lewe aan
en ten spyte van al die traumas
voel ek nou nie meer gedaan nie
baie erger dinge gebeur met mense
It is unfathomable —
the things people sometimes go through.
Agatha Christie
Julia Carstairs in Elephants can Remember
eks net bietjie moeg
maar dit gaan goed met my
hier waar ek lê in my gewone bed
aan die tik op my Asus E510
aan die einde van 2025
voel ek, ek het soos anderdie reg om gelukkig te wees
al is dit dan net altyd
met my klein daaglikse
vreugdes
🦋
© Annora Eksteen, 2025