20/09/25

Tye onder die son in skoonheid en liefde

Annora Eksteen
20 Gedigte (2024–2025)

'n Kothuisie in 'n koue plek

ek sal vir jou 'n rooi vuur maak
die wind waai buite
die sneeu val in Desember
maar jy is veilig by my

in ons bed

Stillewe, 2024

‘n Oggend by die Groot Rivier

ek sien haar aan die oewerkant
met druppels op haar lawwe lyf

ek sien haar in die diep poel duik
die Visrivierheks met haar fuik

sy knipoog vir my en vra haar vrae
wil jy nie inkom inkom inkom nie

kom dryf kom dryf
kom dryf saam met my

moet net nie
klomp kak aanjae

al was jy altyd
vry ! vry ! vry !

ek gaan toe mos maar die waters in
ek was nie meer so bang nie
ek was nie meer so kwaad

want op ‘n manier
was die ou dier altyd hier 
by my en my nimmereindigende skrywery
wat tog nou besig-besig besig is 

om 'n einde te kry

Parkhurst, 2023

Dagbreekdans (Skilderye met blomme)

die dag breek oor gedigte soos die skoonheid van son
deur 'n kristalkoepel op 'n eikehoutvloer wat alles verlig

dan begin die geel glans glinster op 'n oopgekelkte blom

oor Welgemeend se kuns en 'n druppelende fonteinbron
en oor Wellington waar 'n beeldetuin groei, welig in lig

die dag breek oor gedigte soos die skoonheid van son

ver en verder by Wits tot oor Wespark as die oggend kom
oor 'n nederige nis se lank gelede 1970 skielike doodsberig

dan begin die geel glans glinster op 'n oopgekelkte blom

oor boekrakke, stukkende dakke, mense nog slapend in Ōṁ
al dansend deur vlaktevensters oor jong digterskoppe wat sug

die dag breek oor gedigte soos die skoonheid van son

die daeraad dans nou 'n chanson op die pols van 'n cajón
dit skyn deur 'n kantgordyn en vul die kamer pragtig in lig

dan begin die geel glans glinster op 'n oopgekelkte blom

vers-moeg krabbel ek: ek is so geskok deur die lewe, daarom
werk ek aan in eensame nagte, my fokus op die oggend gerig

die dag breek oor gedigte soos die skoonheid van son

dan begin die geel glans glinster op 'n oopgekelkte

blom


Die treinspoor vanaf Mosselbaai, 2018

Die baie wat oorbly ná jare

ek blaas die spinnerakke weg
want dis alles nou nie meer

so sleg nie

Victorypark Kelderkamer, 2025

Diep Rivier

kind van Afrika
ek het daai donker bloed
diep in die hart van Afrika
sal ek myself aanhou soek

ek sing vir haar
weer 'n keer
diep rivier
groot rivier

die riete beweeg soos die wind
soos die reën
soos die vrou van die rivier
beweeg saam met jou
groot rivier

die riviervrou bly in die duister van die nagoewer
die riviervrou bly in 'n rietdakhut
sy hou die man dop wat op 'n spoelklip sit
sy sien vir Ana die windnimf
in die groot boom langs die kuil

die riviervrou sing
sy sing in die nag
oor die spoelklipman en sy roffeldrom wat sag
die reis van die rivier saam trommel

van hoog bo in die berge
sing die riviervrou hulle reis
van Lesotho tot Augrabies
die plek van groot lawaai
oor die stille vloei af na die see
en die drie bergvroue wat in die kuile baai
van die groot rivier
die diep rivier van diamantgruis
die ou Gariep
van Afrika

ek beweeg saam met haar
ons groot rivier vloei aan
ek sterf in haar
en steeds vloei sy aan

sing riviervrou
sing helder en skoon
sing vrou van die Gariep
sing nog 'n keer die lied

wat die rivier vir jou aantoon

Stillewe, 2025

Ek hoor die klanke as ek verby stap

in die straat verby Deltapark
staan ‘n huis met lae geel mure
daar woon ‘n ou man met ‘n krom rug
en knobbelrige vingers
sy kleinseun oefen elke dag ‘n tuba

op die gras, nog dor en winterbros
stap die ou man laat een middag
sy oë op die vuil sypaadjie gerig

as ek my ver pad
met nuwe moed in die lente
terug huis toe stap, sien ek elke Vrydag
‘n Land Cruiser met ‘n lang sleepwa
hy laai vyftien parkfietsryers af

dis alles wat ek sien
en ook die torings van Sandton
die besemverkoper
die wag voor die kleuterskool
die akkerbome in die laning
die eekhorings wat rondskarrel
die duiwe wat opvlieg
en die ape wat in die takke

rondswaai

Deltapark, 2022

Ek vind tog altyd weer iets inspirerends

in goeie gedigte, boeke, films

in skranderes se intellektuele insig

in my vele alleen diep nadenke

in die sinne wat ek formuleer in my brein


alles het afgesonder en baie stil geword hier

'n weemoed het in my gedraai en weer telkens weggewaai

sal ek met wat oorbly dalk nog lank bestaan onder elke volmaan

ek fluister vir myself ek moet in die goue appel-metode aangaan

in my lang alleen diep denktye in my eensame kom en gaan

in hierdie kelderkamer rank my skribbels aan


as ek in die oggende ontwaak

stap ek in die sonstil straat 

tyd, die ure, loop deur elke dag

3 nm is koffie vanaf 4 nm … tee, tee

en oor my vel dit nie meer kan vat nie


uit die son uit bly


Mandelaplein, 2022

Hm, ek hou van sing

en bok as jy
jou bekfluit speel
om liedjies
vir jou te bring

I.R. Griffith Primary, 2022

Januarie se hoëveldreën

en ek blom
in groen, in geel
in rooi, in blou

‘n bruin bokkie was ek
en ek het gehardloop
so ver weg as wat ek kon

en nou skyn
die oggendson
deur die ruite

sonder dat ek weer siek voel
van depressie soos in 2014
as die dagbreek kom

met die seisoene
gly berustend tog
veel smart verby

ek rangskik rose
alles groei welig
in my nuwe skrywende

lewe

Victorypark, 2023

Meer lig

van sonlig en dowwe lig
en grys misreën

ys-ryp en sneeuvlokkies
wat teer-sag saam ween

die skynsels van aand 
as 'n wolk stil dryf ​
met die swart-blou fluweel 
van die nag om my lyf

ek bly al sewe jaar in ‘n skemerkamer
waar ek gewoond geraak het aan minder lig

waar eintlik wat gebeur het is
dat ek migraines kry van te helder lig

en tog keer ek terug na die oggend se lig
en ‘n rustige, mooi, diepgaande gedig

met altyd meer
intellektuele 

lig


Craighallpark, November 2022

19/09/25

My wonderlike muse

sy het my lewe volgemaak met gedagtes
en pragtige vreemde akkoorde

sy het nuwe wêrelde vir my oopgemaak
ruimte- en naghemelwaarnemings
visse wat deur die sterre swem
anderkant Tierra del Fuego
Jupiter en Mars

ek dink aan liefdeslirieke
poësie en uithouvermoë

en ek dink, hierdie kalmte in my
is beter as dat ek so bekommerd bly

my verstandelike gesondheid is nou beter
ek voel meestal denkend en meer stabiel
ek leef soos ek leef in eensaamheid

ek bly lief vir die kunste
ek kan rustig daarin bly

en ek is bevoorreg
om so 'n wonderlike muse te kon kry

Pietermaritzburg, September 2018

Rustig, stil en mooi

kabinette en woordeboeke
was my pa se kartoteek, ‘n kelder koel

my kombuisie: kapokaartappels, botter
sout en sop en soet lemoene

die mooi dinge wat verby is
die mooi dinge wat steeds hier is

in hierdie vrye tye van my geïsoleerde lewe
dink ek oor die sinvolheid van my bestaan

dan vrede weer in dit wat ek weet
in privaatheid, in sekuriteit

in die waarheid
dat ek vergaan

met die briese deur die nuwe boomblare
ruik ek die vroeg-lente blomme

en die son, die swembad
die lug daar buite

is rustig, stil 
en mooi in die binnehof
wat ek sien deur die blindings

van die ruite

Ash en Betty se afskeid Engeland toe
16 November 2023
Craighallpark

Sing, my blomme

mooi altyd die blomme in ‘n vaas met 'n vis
in hande, voete, perde, engele
in die see, die lug, die wolke
soos Winifred Nicholson
wil ek dit alles probeer 

verf

Vaas met vis
Annora, 2018

Skoonheid, ‘n lewe

haar goudbruin hare
stroom oor haar skouers

sy sing wanneer lente weer sag oor haar vou
soos haar groot glimlag en haar arm om jou

sy tel haar rekenaar af van haar skoot
sy blaas haar mooi kers 

dood

Oudtshoorn, April 2013

Skulpe in my hand

verstom oor die prag
van die skulpe in my hand
gebleik en broos, witblou ligroos
soet heuning appelkoos

en op dit in fynskrif
die dae het ophou bestaan

op hierdie strand vol seepampoentjies
lê soveel skulpe van my land
hierdie skulpe lê
in my hand

met al hierdie skulpe
is ek veilig waar ek skuil
met al hierdie woorde
wil ek my tyd verwyl

elke oggend op my bed lê en lees
elke middag saam met YouTube sing
in die aand baie laat
oor my liefde vir poësie praat

verstom oor die wysheid
van die skulpe

in my hand

Kleinbrak, Junie 2018

Soet sestig in die herfs

ek het nou net skuld

so jammer 
so jammer
moenie bekommerd wees nie
wag vir die nag se sterreprag

as ek 'n herinnering gehad het wat kon voortleef
sou ek met my skribbels en liedjies 
iets meer mee wou gedoen het

maar wat ander kan
kan ek nie
ek hou verby
ek berus daarby

sou ek vertel het van my psigosomatiese siektes
vertel het vir die nuwe vriendin, maar sy is weg

died in her sleep

was dit covid was dit kanker, dalk haar hart
sy het net ingegee, maar ek is nog redelik sterk

Elsa wou haar kleinkind in haar arms vashou 
daar ver in die dorpie L'eau de Vie
maar haar wonde het weer aan die bloei gegaan
sy voel verwese gedaan en plat geslaan
oorsee gaan, kan sy nie

so lank soos hierdie aarde beweeg beweeg 
beweeg ons saam onder die hemel en die maan
maar gelukkige verjaardag op 7 April
brose skoonheid, die kamferfoelie, die bye
'n wolk dryf hoog bo die park 
se vroegherfs swye

Annie Reënboog is so jammer so jammer
moenie bekommer nie
wag vir die dag
wag vir 'n hondjie 
se vrolike lag

ek is beter (ek is) 
'n volgroeide lam
sal tot op honderd en sewe 
so kan aanhou lewe

tulala tulalu tulatu tula
my ma is dood 
het die klein seuntjie gehuil

so jammer so jammer 
ek is so jammer

tulala tulala
slaap sag en slaap teer
maak maar jou ogies toe 
weer 'n keer

ek sê vir jou nag 
terwyl die sterretjies 
in al hulle prag

oor jou wag

Kelderkamer, September 2022

Soos hierdie, het ek lief

dit is lente
'n wasigheid bedek die vyf mere
my skat
laat ek vir jou 'n rooi geverfde boot koop
en jou wegvoer
oos van die aromas
en noord van die sneeue


Wu Zao in verwerking terwyl ek haar poësie leer ken
in die dinastieë wat vergaan het, maar steeds
bly staan het in geskrewe digkuns
en in die stories van ongeletterde vertellers

ek wens ek kon destyds in ‘n vywertuin sit en dink
waarheen op aarde my skryfpaaie my heen sou lei

na somerson en druiwewyn
en die koningsrooikamer in die Qing

die orgideebinnehof
die liedere wat in die rivierbamboese opklink

die edele adellikes
die as van die droom
van die koningsmooi kamer
in die Qing

ontdek ‘n paradys en kyk
koraalversierings klink aan jou lyf
wanneer ek saam met jou tee skink
en oor mekaar se skribbels dink

en jy sal weet
een glimlag van jou was genoeg om my
my elke woord te laat vergeet

en jy sal weet
my hand bly op jou lyf
in die dou as die Dagbrekertjie sing
en jy besig is om blomme te pluk

en saans in die verlate vallei
as ons eteriese gedagtes
soos lanterns gloei

ek vaar riviere oor die aardbol heen
met Zao en haar geparfumeerde lamp

en terug tot hier op die rooi boot
jou sterre is die vuurvliegies

in my hand

Stilte en liefde

lê in die spanning
tussen die onverwoorde
en die geskryfde sinne

dit is in ons strewe
na vrede in gehardheid
in ‘n vriendelike bestaan

dit is in ons wete
dat ons dit wat goed is
beskerm en bewaar

dit is in bewussyn
in begeerte
in harmonie

stilte en liefde lê
kosbaar en geliefd

in aanvaarding

Fourways
25 Desember 2025

Soothing song for the summer / Streelsang vir die somer

A soothing song for the summer

I live in an old green city
with colossal sculptures
and stately buildings
dating from eras of architecture
that would last long in beauty

you looked at me intently
your dark eyes rested
for a moment on my face

open your thoughts
you whispered
open yourself to me

let your drops stream
in waterfalls of sorrow
flow with the river
so that you 
can 

remember

and now we are here
in this listening-rich summer
of those whose silent voices we still hear
and the voices of us
who are still

alive


'n Streelsang vir die somer

ek bly in ‘n groen ou stad
met kolossale beeldhouwerke
en statige geboue wat dateer
uit eras van argitektuur
wat lank in skoonheid sou duur

jy het aandagtig na my gekyk
jou donker oë het vir ’n oomblik
op my gesig gerus

maak oop jou gedagtes
het jy gefluister
maak jouself oop

laat stroom jou druppels
in watervalle van rou

vloei saam met die rivier
sodat jy 
kan 

onthou

en nou is ons hier
in hierdie luisterryke somer
van dié wie se stil stemme ons steeds hoor
en die stemme van ons
wat nog

leef

Xolani en Monwabisi, Pentrich Road
April, 2025

Sy wat met die Karoomaan geloop het

sy het die sterre se lig in haar hare gedra
haar woorde was elke nuwe dag vir my

sy met weerkaatsings in haar oë
wat dryf soos planete, so ver, so sag

en die Suiderdiamant wag
in die skoon Kamdeboo

op ‘n Vrydagnag

Op die patio vir my lente-ontbyt
1 September, 2024

Dankbaarheid en vrede

Annora Eksteen
20 Gedigte (2017–2025)

‘n Laaste lied

op pad in die niet
‘n altyd se laaste lied

buig die bome in die woud
waai die sterre
vir die kwynende sekelmaan

mooi is hy vanaand
met 'n stralekrans

sluk die wond in julle kele

op pad in die niet
‘n altyd se laaste lied
digters van Mohenjo Daro
hulle werk is lankal vergane
maar steeds bly dit 'n nes 
vir die wêreld

die Kurchibome in blomprag by Visva Bharati
die bontrug skilpaaie veilig by die Bôrdienghuis
in Wellington

Sutterland
Père-Lachaise
Botterkloof
Shantiniketan

Slowly Down the Ganges

die groen aarde
bly ‘n erfenis

julle aandsterre het deur sterlig gegaan
en weer die oggendlig gekry
hier by my in my klein binnehof
met rondloopkatte digby my
en om my geel is die suurlemoene
wanneer die swaeltjies terugkeer
op ‘n lieflike oggend in die lente

by ‘n diep put in Bhubaneswar
het ek weer ‘n altyd vry
groen breyten-boom gekry

vry ! vry ! vry !

Parkhurst, 2024


Al het sy weggegaan

ver weg
verdwyn
weet ek
dat my klanke nog
uit my mond soos glas
in die rimpelende poel sal val en val

al dink ek dit was alles so swaar te swaar
al sug ek terwyl ek op ‘n klavier in e-mol mineur
note speel wat verbrokkelend val en val
ek sal haar nooit weer nooit weer

al voel ek dit is te moeilik
soveel moeite om weer te
weer saam met die sterk stroom te vloei te vloei
sleep die los grofsand my skawend saam

skerp grys klippe beweeg oor my lyf
terwyl ek swem tussen gladde visse
geharde waterhonde
oop bekke
skerp tande

dan tot waar my klanke soos klokke
vanuit die dieptes na die skoon oppervlakte styg

dan tot waar ek haar sterre soos vuurvliegies
in my oop ronde handpalms
vang

In die tuin by die kelderkamer, Victory Park, 2022


Daar was so baie mense

so baie gebeure, so ontsettend lank gelede
alles het altyd vir my klaar lank gelede gevoel
asof ek leef in ‘n eeu verder van nou en terugkyk
op nou, die tyd waarin ek leef en dit wat was, asof
dit vasgevang is in glasies vol fyn sandtydkleure in ‘n
maalkolk sterrewind ineen gestrooi gewaai versprei en ek
kan dit nie mooi meer uitmekaar kry nie, dit is vervloei, dit strek
oor millenia, eeue, jare, maande, weke, dae, generasies kom, kom
en sal weer gaan en die tyd droom, en alles bestaan en alles vergaan

Braamfonteinspruitpark, Parkhurst, Julie 2023

Een huisje op een koude plek

ik zal een rood vuur voor je maken
de wind waait daar buiten
de sneeuw valt in december
maar bij mij ben je veilig
in ons bed

Parkhurst, 2023

Ek gly rond op ‘n basviool

op ‘n diep glansblou meer

ek kyk en luister

na ‘n orkes met viole

fluite horings fagotte

almal in wit en blou geklee

op ‘n terras teen ‘n hoë berg 

groen van nuwe jong lewe 

vol  ligpersfyn ou blommetjies


dis wat ek gedroom het


en toe vlieg ek en Glenda

in ‘n kersierooi convertible oor die meer

na die mooi groot stad vol hoë moderne geboue


aan die anderkant


Ligte sneeu in Joburg, Julie 2023



My poësie-blog / My Poetry Blog

    Annora Eksteen Since brass, nor stone, nor earth, nor boundless sea But sad mortality o’er-sways their power, How with this rage shall b...