20/09/25

Dagbreekdans (Skilderye met blomme)

die dag breek oor gedigte soos die skoonheid van son
deur 'n kristalkoepel op 'n eikehoutvloer wat alles verlig

dan begin die geel glans glinster op 'n oopgekelkte blom

oor Welgemeend se kuns en 'n druppelende fonteinbron
en oor Wellington waar 'n beeldetuin groei, welig in lig

die dag breek oor gedigte soos die skoonheid van son

ver en verder by Wits tot oor Wespark as die oggend kom
oor 'n nederige nis se lank gelede 1970 skielike doodsberig

dan begin die geel glans glinster op 'n oopgekelkte blom

oor boekrakke, stukkende dakke, mense nog slapend in Ōṁ
al dansend deur vlaktevensters oor jong digterskoppe wat sug

die dag breek oor gedigte soos die skoonheid van son

die daeraad dans nou 'n chanson op die pols van 'n cajón
dit skyn deur 'n kantgordyn en vul die kamer pragtig in lig

dan begin die geel glans glinster op 'n oopgekelkte blom

vers-moeg krabbel ek: ek is so geskok deur die lewe, daarom
werk ek aan in eensame nagte, my fokus op die oggend gerig

die dag breek oor gedigte soos die skoonheid van son

dan begin die geel glans glinster op 'n oopgekelkte

blom

Die treinspoor vanaf Mosselbaai, 2018

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.

My poësie-blog / My Poetry Blog

    Annora Eksteen Since brass, nor stone, nor earth, nor boundless sea But sad mortality o’er-sways their power, How with this rage shall b...