23/07/25

Sing nog ‘n slag: sing blomme, sing bome

Annora Eksteen
25 Gedigte (2010–2013)

‘n Uitsig op ‘n somerwingerd

en een keer 

elke skrikkeljaar

sou hulle haar daar 

in die ou dorpie gewaar

en wonner wat de donner

sy praat dan nou Provensaal

sy sê sy kom dan uit die Languedoc

boy ou boy, kan sy dam mar lekker jok

maar nuwe horisonne wink en in die glas 

wat sy nou skink is die granaatsap rooi en haar 

uitsig op die somerwingerd is groen en wondermooi


🦋

© Annora Eksteen, 2010


Ek't gedink aan die plotte langs die kanale in Upington se omgewing. Hulle kry water of besproeiing uit die leivore en het vyebome asook druiwe en lusern. Vir die koeie en kalfies. Ook steenhuise voorsien deur Upington Water en Verbouiing. Klink oulik. Amper soos die Vaalhartsskema in die middel iewers. Blêddie omie met al sy stories wat gewissel het van Duinesand in Namaland tot by die Kanaalskema wat ek nie weet wat die was nie. Seker maar die reine waarheid met kinkels in die kabels. Dog ek skuinskoek is 'n groot koek soos Madeira wat net in 'n skewe vorm gebak word, maar dis klein vetkoeke.


https://boerekos.co.za/recipe/skuinskoek/


Ek het oor die jare van my probeerslae op Facebook agtergekom eks nie 'n regte Afrikaner nie. Ek wou dit in elk geval nie wees nie. Deels wel. So bietjie. Dankie tog ons kon uitwyk Engelse skole toe. Ons almal soveel beter gepas. Dit is nog steeds 'n groot verligting en dankbaarheid in my. Vir dit oor dit.


O. Een ding wat ek weet, is dat, al dink mens mens ken 'n paar woorde Frans, moet ooit NOOIT weer probeer Frans praat met Franse nie. Want mens kan nie. Mens hardloop binne een sin uit vocabulaire et gramaire uit. Engels. Oui. Yes.


(Ek volg darem al die Franse skrywe en gepratery op die Internet baie beter. Dit darem.)

Afgetree met woorde en musiek

koerend wieg ‘n duif

in 'n nes aan 'n tak in ‘n boom

sy murmur van 'n groen blaar 

'n hand op 'n snaar

lang vingers wat op die klawers baljaar

dit word ‘n lied 'n storie

'n woordmusiekeffek

so dierbaar vir my hier waar ek woon

in Huis Herfsblaar nommer sewe

op ou Potchefstroom


🦋

© Annora Eksteen, 2010


Ook maar net nonsens, maar ek het maar altyd gehoop ek kan ook 'n aftree-oordhuisie kry met dit en dat en 'n tuintjie. Maar nou ja.


Ook maar die ou praatjies en stories van die mense in die aftree-oorde en hulle doenighede om die laaste jare nog deeltyds vrolik te maak.


Herfs is mooi. Dit is koel tye. Heerlike dae. Maart is laat somer. April is vroeg herfs en Mei is laat herfs en die blare wat verkleur en val is altyd pragtig.

As op Boschkop die hadidas nesskrop

en die honde gaan slaap

skitter sterre blinkhelder

bo die plaaspad van die randheer 


hierdie land, dink hy 

is meer as my herehuis 

meer as die kroon se kluis

kom ons hou 'n tuinpartytjie

sug hy vir sy vrou 

en ons klink 'n glasie

op die bloed en op die rou

maar ons bou 'n katedraal

as die nag uiteindelik 

in vrede toevou


want die oorlog het verby gewaai

om middernag daai aand

'n rooidag het opnuut gebreek 

oor hierdie as van ‘n verbrande land


'n eeu sal verbytrek

het die randheer moeg gesug


ons los ons zebrakoets se spoor

vir hulle wat so kan dig


🦋

© Annora Eksteen, 2010


Ek was toe darem uiteindelik by Northwards. Dale Lace se Herbert Baker-herehuis daar bo op Parktown Ridge. Mooi uitsig Noorde toe en hulle plaas was Boschkop waar nog die vervalle Hymany Country House gesien kan word in Randpark Rif. Dale se vrou, ou spandabelrige Josie, het eens 'n zebrakoets ingespan. Sy was taamlik simpel, maar het wel 'n soort van sjarmante persoonlikheid gehad en teepartytjies in die tuin gehad vir liefdadigheid. Hulle rykdom het tot armoede gelei weer oor verskeie redes. Nou nie volstrekte armoede nie, maar ja. In vergelyking. Nogtans hou ek nogal van die ou randhere. Veral oor hulle so baie bome laat aanplant het. Orals is net bome in Joburg. Al die uitheemse bome is te pragtig ook. So saam met die inheemses. En al die argitektuur wat toe opgerig is. Toe lei dit later na die Unie van Suid-Afrika en Afrikaans as ook 'n amptelike taal in 1925. Nou is dit die Afrikatale se beurt, maar eintlik is Engels die taal.


Nie voorheen agtergekom nie: die riwwe van Johannesburg. Sulke koppies. Soos Mellville koppies ook en daar waar Observatory en die ou Sterrewag lê. Stede se ontwikkelings is baie bevredigend en leersaam. Altyd baie om oor te lees en te ontdek hoe alles gebeur het tot nou toe, nè.




Uitsig van daar bo af.

Blomme in ons land

kry ons tussen rose

en lelies in die vlei

ons sal vir jou vertel

van ou plaashuise 

waar madeliefies 

in die winter

eens lank terug

vrolik en sonnig 

kon gedy

Borrelfontein

my borrelende bron van babbelende woorde

my woud so dig met net skynsels lig

ek besit ‘n mosbegroeide waterval

waar klanke na my toe afval

en stil varings van hartseer groei

verlange word skoon gewas 

en soms verdwyn dit

maar soms bly dit sag 

deur die varingblare skyn

my suiwer fontein van die hede 

spoel die troebel water weg

van die verlede




22/07/25

Daar waar jy was

ek kies steeds jou stem

wat ek nog altyd hoor

en my hartseer mond

want ek het jou so lank terug verloor


ek kies die plooie om my oë

om my te laat besef

ek word al hoe ouer


ek lees aan die lyne op my hande

dat daar dan elke jaar blommetjies sal groei

op my aardegraf


ek het gelees van iets

maar nou is dit weg

want ek is moeg


ek onthou jou woorde aan my

want ek mis jou so

jy is al so lank weg


nou het ek net myself

en ek gee in oorvloed vir jou

want jy het geskryf

lank terug

hoe mis jy my 


en ek sal aanhou skryf van jou

en my poësie sal ek

na mense toe bring


ek kan nie glo

hoe mooi my stem nou is nie

ek kan net dink

hoe baie jy daarvan sou hou


ek kon nie glo

wat uit my kon vloei nie

ek hoop

al is jy al so lank weg

dat jy dit geweet het

dat dit is 

wat sou gebeur het


my stem met klanke van swaeltjies

en duifbabatjies in ‘n boom

my stem met klanke van kinderstemme

wat neurie wat speel

met modder met vere

papierbootjies 

balonne


my stem met klanke 

van nat avant garde strate

en absintpoele in rokerige glase

op ou tafeltjies met die belles lettres 

van die belle époque in belle Montmartre

waar jy was en is en jou oë

seewier swart mos reën

‘n waternimf se rimpeling 

tussen waterblomstingels


op ‘n groot skip soos ‘n ster

op ‘n nagblou koue oseaan

dobberend wiegend 

het jy die sout seewind geruik

stil het jy geskryf

eensaam by lamplig in ‘n kajuit


dan soek ek

met klanke van dagbreek

en loeries wat roep


treine

miskien

wat my sal weg vat


en ek wag 

vir die laaste trein

om my weg te vat


verlam 

in verdriet

verdrink

in verlies

verslae

in finaal 

verby


maar die maan en sterre 

sal vir my die pad wys

af met die silwer soet rivier

sal my liefde deur my vloei

want ek kom huis toe

terug na jou toe

met my bos herfsblare 

pers blomme en lowertakke 

wat ek by jou sal neersit

daar sal ek langs jou graf sit

met net my gedagtes aan jou

met net die sug van die sagte gras


daar sal ek niks meer begeer nie

want daar sal ek rus kan vind

en daar sal ek wag 

dat my liefde oor jou vou

daar naby jou


wanneer ‘n man uit die berge

sy sang uitstuur oor die heuwels

sal ek my kombers styf om my skouers hou

sal ek ril oor die mis wat oor die berge rol

sal ek terugkeer na ons huis en ons bed

‘n klavier ‘n boekrak en potte op die stoof

stomend met aartappels en vleis in knoffel en wyn


ek sal ons kleinkinders op my skoot sit

'n storieboek oopslaan en salig indut

terwyl ek hulle in my wiegstoel sus


en jy sal diep slaap

en ek sal weet dat ek vir jou geskryf het


Nico

lieveling 

ons het dit uitgeskryf

dat ons oor alles jammer is

ons skryf dit nou af liefste


Van Mia

In Vrede


my reis het nou geëindig

so ek onthou die tye toe ons jonk was


en môre met die sonsopkoms 

oor die berge oor die dale

sal ek onthou hoe ons gedans het

in ons harte 

se sale


🦋

© Annora Eksteen




My poësie-blog / My Poetry Blog

    Annora Eksteen Since brass, nor stone, nor earth, nor boundless sea But sad mortality o’er-sways their power, How with this rage shall b...