ek kies steeds jou stem
wat ek nog altyd hoor
en my hartseer mond
want ek het jou so lank terug verloor
ek kies die plooie om my oë
om my te laat besef
ek word al hoe ouer
ek lees aan die lyne op my hande
dat daar dan elke jaar blommetjies sal groei
op my aardegraf
ek het gelees van iets
maar nou is dit weg
want ek is moeg
ek onthou jou woorde aan my
want ek mis jou so
jy is al so lank weg
nou het ek net myself
en ek gee in oorvloed vir jou
want jy het geskryf
lank terug
hoe mis jy my
en ek sal aanhou skryf van jou
en my poësie sal ek
na mense toe bring
ek kan nie glo
hoe mooi my stem nou is nie
ek kan net dink
hoe baie jy daarvan sou hou
ek kon nie glo
wat uit my kon vloei nie
ek hoop
al is jy al so lank weg
dat jy dit geweet het
dat dit is
wat sou gebeur het
my stem met klanke van swaeltjies
en duifbabatjies in ‘n boom
my stem met klanke van kinderstemme
wat neurie wat speel
met modder met vere
papierbootjies
balonne
my stem met klanke
van nat avant garde strate
en absintpoele in rokerige glase
op ou tafeltjies met die belles lettres
van die belle époque in belle Montmartre
waar jy was en is en jou oë
seewier swart mos reën
‘n waternimf se rimpeling
tussen waterblomstingels
op ‘n groot skip soos ‘n ster
op ‘n nagblou koue oseaan
dobberend wiegend
het jy die sout seewind geruik
stil het jy geskryf
eensaam by lamplig in ‘n kajuit
dan soek ek
met klanke van dagbreek
en loeries wat roep
treine
miskien
wat my sal weg vat
en ek wag
vir die laaste trein
om my weg te vat
verlam
in verdriet
verdrink
in verlies
verslae
in finaal
verby
maar die maan en sterre
sal vir my die pad wys
af met die silwer soet rivier
sal my liefde deur my vloei
want ek kom huis toe
terug na jou toe
met my bos herfsblare
pers blomme en lowertakke
wat ek by jou sal neersit
daar sal ek langs jou graf sit
met net my gedagtes aan jou
met net die sug van die sagte gras
daar sal ek niks meer begeer nie
want daar sal ek rus kan vind
en daar sal ek wag
dat my liefde oor jou vou
daar naby jou
wanneer ‘n man uit die berge
sy sang uitstuur oor die heuwels
sal ek my kombers styf om my skouers hou
sal ek ril oor die mis wat oor die berge rol
sal ek terugkeer na ons huis en ons bed
‘n klavier ‘n boekrak en potte op die stoof
stomend met aartappels en vleis in knoffel en wyn
ek sal ons kleinkinders op my skoot sit
'n storieboek oopslaan en salig indut
terwyl ek hulle in my wiegstoel sus
en jy sal diep slaap
en ek sal weet dat ek vir jou geskryf het
Nico
lieveling
ons het dit uitgeskryf
dat ons oor alles jammer is
ons skryf dit nou af liefste
Van Mia
In Vrede
my reis het nou geëindig
so ek onthou die tye toe ons jonk was
en môre met die sonsopkoms
oor die berge oor die dale
sal ek onthou hoe ons gedans het
in ons harte
se sale
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.