dit het gepyn in jou
die lewe het jou te erg verniel
jy was so ’n verwonde Afrikaan
jy’t gedink niemand ooit
kon jou smart verstaan
ek het gekom en nou is ek hier
om saam met jou verder die lewe te vier
ek waai deur jou ek waai deur jou
ek is Ana Windnimf
ek waai jou saam ek waai jou saam
kom ons waai oor ons groot ou rivier
kom ek lig jou oor waar wilde waters druis
en waai jou af na die see
jy kom met jou liefde en sing my skoon
jy vertel vir my bergverhale
waar ons aan die Weskus woon
nou waai jy deur my en ek waai deur jou
en saam waai ons al twee se hare deurmekaar
ek waai jou saam jy waai my saam
ons waai hand aan hand oor die see
verby is die dae toe jou oë vol pyn was
toe daar net brood en brandewyn in jou kas was
verby is die dae van met lemme sny
die letsels op jou polse dis alles verby
verbruin deur die son van ons land
riviervrou kom vat my hand
dan waai ek met jou oor Namakwaland
tot daar waar skaapwagtervure brand
agter rooi duine in Kalahari met my towerwand
en terug oor die duine van die Weskus se sand
jou windnimf waai jou silwerskoon
terwyl sy aan jou haar liefde betoon
ek waai deur jou ek waai deur jou
ek is Ana Windnimf
ek waai jou saam ek waai jou saam
kom ons waai saam
oor die see
Reebok, 2017

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.