My klip met ‘n holte
Skryf is uitdrukking d.m.v. die tale waarmee mens vertroud is, om vir jouself ‘n duideliker begrip te bewerkstellig.
Dit is seker dan die rede dat ek 70 gedigte van my pa gekies het en vir myself verwerk het om sy lewe hier tot ‘n klein eenheid te laat vloei en dit so op skrif gestel het.
My interpretasies van my pa se lewe en werk, sê meer van myself as van hom, maar deur my skrywes oor my lewe en my kyk na sy nagelate gedigte, soos my woordeskat verbreed het, is dit asof ek sy digterskant nou tot ‘n mate beter ken en kon ek tot ‘n mate in sy lewe en skrandere begaafdheid inkom.
BEKENNING VAN ‘N VERKRAGTING
Toe lees ek die bekenningsgedig baie jare nadat hy gesterf het, want my ousus gee dit toe vir my, maar ek weet van gin predikant wat voor ‘n gemeente opgestaan het en gebieg het oor hy ‘n dogtertjie seksueel gaan staan en gewelddadig aanrand het nie.
Die gedig is fiksie, maar dit is ‘n versugting vir eerlikheid vanaf sulke misdadigers, want die waarheid maak mens as skrywer vry, maar Oupa Vrot het nooit gebieg nie, so ek dink dat skrywers in fiksie hulle kan laat uitkom met die reine waarheid.
My dae is soos getye wat uitgaan en terugtrek, soos deinende golwe. My wisselende emosies beweeg op en neer, maar heel kalm en energiek meestal nou deur die dag. Geleidelik het ek ‘n verbetering begin sien in my welstand en my golwe word nie maklik meer stormagtig met geweldige breekbranders nie.
Ek het baie tyd om te dink en te werk en ek leef half in ‘n kloostertuin in ‘n nonnesel, maar die nonnetjies het nou nie fantasieskilderye teen hulle mure nie en lappe en komberse, ‘n groot ou teddiebeer in die arms en ‘n klavier langs die enkelbed nie en ek’t ook ‘n kombuisie en badkamertjie net vir myself wat my ryker as Cleopatra maak. ‘n Klavier en waaier en skootrekenaartjie, my liewe splinternuwe ASUS E510 wat my ryker as Marie Antoinette maak.
Ek’t niks meer om oor te kla nie, al vir meer as ‘n jaar, maar dikwels val ek nog terug en mis wat ek nie meer het nie. Mens gee baie prys vir vryheid. Ek het ook ‘n teer gevoel van groot liefde vir my kinders oorkant die water. Ook hulle betaal die prys, daar is ‘n gemis en verlange, maar aan die einde van die dag dink mens maar net weer: die prys is dit werd vir beter en vryer lewens met baie meer vrede sonder al die familiebagasie veral van my kinderjare en so aan.
My lewe het tot ‘n stilstand gekom, maar ek het van kleins af elke nou en dan self tot stilstande gekom, onttrek in my kamer om self dinge te doen, ‘n alleentipe, en ek kan myself heel goed besig hou tot op ‘n punt toe. Dan raak ek moeg vir net myself die hele tyd, maar ek het, in afsondering, baie tyd gekry vir vrye uitdrukking in my skryfwerk.
Ek het steeds tyd, en nou sal ek nog meer tyd kry, want einde Julie 2024 was dit die laaste van my klavierlesse. Maar dis erg, want op 63 was ek moeg en dikwels siek.
Nogtans, dit is waarmee ek aangaan. Skryfwerk. Ook vir my is dit altyd ‘n plek van onsekerheid, groot twyfel aan myself — totdat dit deeglik afgerond is, waarna daar tog ‘n tevredenheid kom in die oorgee nou aan die leser.
Daarna voortwoeker, maar die proses is so uiters emosioneel en evokatief, dat ek dikwels mislik voel terwyl ek aan swaar onderwerpe of herinneringe werk en soms is ek nog steeds in trane.
Die reise van boeke
Dis net dat ek die nagelate manuskripte van my pa laat gaan het. Goed dan: laat wegry het met Pikitup. Sy digbundels ook, maar ek het dit weer bestel in 2023. Of wanneer was dit nou weer. Dalk 2024. Bob Shop en Melville Books en nog ‘n plek toe land die een bundel saam met ‘n bundel van oom Ernst in Bisho by die Police Academy daar.
Toe koop ek nog die I. D. du Plessis-bundels ook en onderhandel met ‘n vrouekonstabel dat sy die bundels vanaf Oos Londen aanstuur. Ek het R200 in haar rekening geplaas en toe gaan haal ek en my dogtertjie, Di, die pakkie by Pep Stores. Oi. Elk geval.
Lydingsjaar
Dit was te swaar vir my in my jaar van groot lyding, 2014, toe ek so probeer selfdood het. Die las het ondraaglik geword. Eintlik die armoede mos. Mos uit my werke gewerk om sterker te word vir die tawwe pad van eerlik skryf.
Ek moes harde klippe kou al oi woi.
So laat ek dit hier gaan. Ek kan nie by elke gedig skryf uit watter presiese gedig kom dit nie, want in verwerking oorvleuel dit en ek kan nie my pa se gedigte oortik nie. My ousus het seker nog afdrukke van die Erfenis uit ou Pergamon, maar haar gesondheid het hierdie jaar veral ‘n knou gekry, so ek kan haar of hulle nie pla hieroor nie. Sy het wel die fotostate in my hand gedruk in 2013, ai tog. Dit is dan nou maar wat ek daarmee kon doen en dit was wel baie verrykend vir my.
Ek wil dit maar net argiveer en dit dan dit.
Vir my gaan dit om maar deur die hartseer oor skade steeds te werk en dan dit laat gaan na ‘n leser of twee toe.
In die donker verlede kan niemand woon nie. Dit is dood al is dit voortvloeiend in lewe in die hede, maar nogtans. Op ‘n stadium, wat nou is in my laaste skryfwerk in 2026 en 2027, wil ek dit finaal afhandel en positief op my eie lewe en die van my geliefdes fokus.
In vrede en sonder emosionele pyn.
Namaste.
My kinders maak my huis vol
En toe was pagoed gelukkig. Terug in Pretoria in 1966. Hy was lief vir sy vyf kinders en het hard gewerk om die huishouding altyd finansieel goed aan die gang te hou. As mens kinders het, het jy nie volkome vryheid as skrywer nie. Mens dink eerstens aan hulle welsyn. Hy wou nie skei nie ek dink hy het sy kinners gekies en wou die huishouding finansieel aan die gang hou so, want egskeiding loop dikwels op ‘n armoedige ramp uit soos vir my, maar daar was iets groots fout met my, en ek sal altyd aan seker angste en fobies ly wat my baie siek kan maak tensy ek dit baie rustig en kalm vat en so bly lewe.
Aarde wordend in erdewerk
Haha, ek sê maar vir my pa dis SATIRE. Ek weet fokol van die geologiese geskiedenis van die aarde af en ek het lekker gelag toe ek nou die gedig weer leeslees, maar my nuuskierigheid is geprikkel en ek wil nog baie lees- en kykwerk oor die aarde insit.
Koplas
Koplas of dan coplas españolas, is Spaans vir koeplette. Dit is twee of vier versreëls, of dit is ‘n gewilde liedjie of ballade wat veral deur flamenco beïnvloed is en romanties van aard is.
Pa het ook ‘n uitvoering van flamencodanse in Spanje bygewoon. Hy was bekoor daardeur, maar die stiergeveg wat hy bygewoon het, het hom met afsku vervul. Flambie se dogter het ook een aand ‘n flamenco gedans toe ons almal nog saam op skool was.
Dit was te pragtig.
Ek weet nie waaruit sy inspirasie vir die vier koplas gekom het nie.
Ons pa se dromende vriendin
Allerlei fraai en ook hartseer liefdesgedigte. Daar was ook lyk dit my twee of so ander vroue op wie hy vroeër jare verlief was.
Ons was almal baie lief vir ou Flambie en ook vir haar gesin van ook vyf kinders. Dit was eintlik goeie goue jare toe ons so saam vakansies gehad het by dieselfde seeplekke.
Darem wonderlik dat daar altyd so baie vreugde ook is in die lewe ten spyte van vreeslike hartseer tye ook.
Dit is net as die vreugde heel verdwyn dat dit oorgaan tot diep depressie en dan is dit net af ondertoe.
Gelukkig het my vreugde teruggekeer. Ek het doelbewus besluit dat mense wat my seergemaak het nie meer my vreugde kan steel nie. My psigoterapeut op YouTube leer ons dat onsself die werk moet insit en dat die HARDE werk is om denkrigtings weer positief te kry ná groot smart, maar dit is baie moontlik as daar iewers iets binne mens iets sterks is wat jouself deurdra en onwrikbaar in jouself laat glo. Met myself het ek nog nooit probleme gehad nie. Ek kan alleen wees en alleen werk.
Want die hemele hoor my brom, ek het omtrent opdraandes gekry.
Ek het toe die manuskripte wat ousus vir my gegee het laat wegry. Ek kon nie meer nie. Dit was in 2014–2016. Genoeg. Bonfire en cremate. Ek het in geheel ophou skryf. So ek het nie die gedigte nie en ook nie die novelle nie. Dit is nie verder my pad nie. Genoeg is genoeg. Ek het dit verwerk oor ek moes genees.
Terapie. Terapie. Terapie.
Maar ook ondersteuning vanuit vreemde oorde weer begin kry vanaf 2016 en ook uit die dak uit mos. Die muse wat so deur mure kan loop soos De Waal Venter se Yanne Euterpe. En die silf in die wolke wat my nou ingelig het dat sy nou in Champagne in ‘n château gaan aftree.
Ek gun haar die rus.
Die arme ou professor in linguistiek
Hy was lief vir klasgee, maar hy was ook nie lief daarvoor nie. Dit het hom geïrriteer baie keer. Sekere studente was beter as ander soos dit maar gaan. Hy het die M- en D-verhandelinge verrykend gevind.
Dit is die taal, tale, idiome, populêre spreektaal, asook kakademiese terme, wat eintlik dié bepalende faktore is in hoe ons denke loop. Sonder tale. Wat is ons. Dan onderskat sekere paloekas nog steeds linguiste en leksikograwe se werk.
Woordeskat, gedagtes en gevoel loop hand aan hand, want dinge kan saam bestaan, maar gedagtes is tog altyd woordeskat. Kan mens net in beelde en klanke of gevoel dink? Ek dink so, want ek dink nou sonder woorde aan my ou liewe kat wat ek moes laat uitsit het.
In die ervaring as iemand weg is, hoor mens hulle nog en voel jy hulle intens aan asof hulle steeds hier is, geluide maak en rondbeweeg. Soos mense minder daaroor dink vervaag dit tot mens baie daaroor dink. Daar is baie plek in ons gedagtes vir onthou.
.
Goed dan. Ek moes alleen kom in ‘n veilige stil ruimte om sonder vrees my jarelange skryfwerk af te rond.
Ek kan, oor my skade, nie onbeangs tussen mense leef nie.
My pa het nie baie tyd gehad vir die digkuns nie en ek mag omtrent als verloor het, behalwe my liefde, die inspirasie, die hulle, die groei in stille konsentrasie, my kids ook dierbaar dierbaar, maar swaar jare en nogtans het ek wel die afgelope 16 jaar baie tyd vir die skryfkuns gehad.
As ek nie weer halfbedwelmd van siektes voel nie. My kop en lyf skoon opgefoes. Maar meestal nou gesond en ek vorder, want ek voel beter, my skryfwerk word nou afgerond om ‘n punt agter dit te kan sit.
My werk. Ek skryf, skribbel, lees en kyk films. Dag of nag. Slaap. Dag of nag.
Die grys beeste van verdriet
Dit trek my weer bietjie plat soms, maar my ou pappie rus in vrede nou in my en so kon ek hom en sy hartseer einde vry laat gaan en ek is nie meer hartseer daaroor nie.
Getroud was hy toe al die jare, maar tog eensaam en in ontbering en vol verlange, maar tog ook nie volslae ongelukkig nie. Hy het so groot humorsin gehad en kreatief na als gekyk en dit ook so uitgedruk in sy gesprekke.
Op die ou end was dit longontsteking wat hom gevat het. Sy hart het ook geskeur dink ek. Sy stadige dood het my van skok laat snak en toe geknak, maar ek het ek my ganske verlede deeglik uit donker dieptes uitgeduik, goed bekyk, ontleed, verwerk, iets van gemaak en van dit alles genees.
Dodedans van die digter
Hy wou nog ballades blus by swarte waters van Sewe Fonteine: Eksteenfontein, Elandsfontein, Klipfontein, Driefontein, Heiligfontein, Droëdrupfontein & Soetversiersuikerfontein.
By die water van Sewe Fonteine
Ek het die oorspronklike gedig verander, want ek was moeg vir die bleekheid, die vaalheid, die grou, grys, newelige woorde wat so deurgesypel het in sy gedigte.
Ek het dit sewe borrelende ou versierde fonteine van vreugde gemaak wat in blydskap spuitend hulle waters vir ons en ook die blye skape gee.
Vasgevang teen die see
Hy was nie lief vir die see nie. Die seehuis aan die Tuinroete wat hy gekoop het was vir sy gesin wat later uitgebrei het na 11 kleinkinders en tans 8 agterkleinkinders, en dit was ‘n plek vir byeenkomste en vakansies hou. Kinnertjies met emmers en sand. Nie ‘n kunsplek soos ou Annie toe sy daar gewoon het ‘n stuk nie. Vir vrinne en visbraaie vir Afrika. Dit het hom tot niks veel geïnspireer nie, behalwe hierdie een oor sy arme innerlike wille perd wat toe opgesluit voel.
Maar hy was lief vir sy gesin en vriende, so hy het daarvolgens geleef. Hy kon nie, soos ek, ‘n taamlik vrye kunstenaar loop wees het nie.
Maar hy was besonner lief vir die droë uitgestrekte dele en het iewers in die sewentigs die see se branders uitgesukkel, soekend na sy bril tussen die skuimende wilde golwe, en besluit, wragagtag nooit weer nie. En inderdaad.
Nooit weer die see ingewaad nie.
Ek weet nie hoe iemand nie mal kan wees oor die see nie, maar jy kry sulkes soos my pa: doggy paddle in die swembad, kop bo water, want hy’t nooit leer swem nie.
Moeilik penetreerbaar: dit is die diep geologie
In hierdie landskap van: ‘n landloper
'n Klip met 'n holte bly toe weg vir hom en hy los vir ons sy Erfenis uit Pergamon.
Ek moes die gay verwerpings ook self aan my lyf en in my gesig voel, maar ek moes leer om stil te bly in omgewings wat nie veilig is nie, en waar mens nie weet of mense boelies, homofobe of marodders is nie.
Dit het my sedert 2000 gevat, so dis nou al 25 jaar wat ek gestruggle het met dinge in die samelewing wat nie reg is nie, aan my opgedwing in skole, kerke, plekke van werke, families: die samelewing.
Dankie tog vir ander en die kunste wat dit uitbring, asook die brawe, kundige joernaliste.
Mens leer nuwe woordeskatte aan. Ek het baie hard gewerk.
Daar is baie gays, weerloos dikwels, en baie baie seergemaak, en al hoe meer kom die gays van Afrika uit die kas uit, in meer genesing dan en vind ‘n toevlug, ‘n veilig hawe hier: in ons land. Vir hulle ook:
‘n Klip met ‘n holte.
Annora Eksteen
29 Augustus 2025
