19/07/25

Huil vandag, die kremetart

tussen klipplaat-suiping

en mopanie-dagsoom

tussen fluweel-kanniedood

en witgebleikte hardekool

strek die Vhembe-distrik

in die provinsie van Limpopo


waar ‘n Bosveld wintermiddag uitkring

en 'n uitkyktoring ver tuur

oor 'n wye wildsplaaswoning

leef sy in haar eensaam 

boswind droming


tussen sand en klip

swart mamba skerpioen

bloukopkoggelmander

trapsuutjies en troupant

haakdoring grys loerie 

ystervark en waterbok


lê  my dierbare oom begrawe

in hierdie sy geliefde aarde


en tussen appelblaar en apies

witgat blouhaak en knoppiesdorings

koedoes klipspringers kletsbekkies

en ou malkop bobbejaan


tronend oor die lieflike veld

huil vandag


die Kremetart


In memoriam

André Oberholzer Eksteen (1936–2009)


.

Ek het dit begin skryf toe ons op my oom se wildsplaas, Leake, was in Oktober 2007. Daarna al hoe meer uitgebrei. Ek dink nie hy is daar begrawe nie. Ek onthou iets van verassing en 'n nis by hulle kerk vir hom en sy vrou, tannie Julie Kruger Eksteen. Die ouer garde is nie meer nie. My broer het al vir my in 2015 op my sussie Ka se dogter se troue gesê, toe ek meld dat ek die ouer garde daar mis, hulle was so bietjie oordonderend altyd, maar baie lekker vermaaklik en vol grappe aan die perfrom altoos, wel, toe sê Boo, " ONS is nou die ouer garde."


Ek kon nooit 'n idee kry van hoe hulle kinder- en jongmensjare was nie. Net soos my kinders ook nie 'n idee kan kry van myne nie. Mens is nog nie gebore nie en kry net weergawes soos indrukke, maar dit is nie vasgelê in die visuele geheue nie.


Ek, ons, leef meestal deur ons intellek. Die ware belewenisse, veral vir iemand soos ek, is maar baie min in vergelyking.


Ek't nie 'n sterk persoonlikheid nie, ek moet in 'n baie goeie bui wees daar buite om geselsies aan te knoop. Deesdae gesels ek soms soort van met die Uber-bestuurders. Een tot een is maar ... elk geval. Dis nogal sleg om so deur die lewe te gaan. Ek het tonne stories van mense in kuierasies gemis so. Maar wat. Sapiens is mos maar aanpasbaar.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.

My poësie-blog / My Poetry Blog

    Annora Eksteen Since brass, nor stone, nor earth, nor boundless sea But sad mortality o’er-sways their power, How with this rage shall b...