Vir die groeiende ronde maan:
eenduisend vyfhonderd woorde
van bitterheid tot helderheid
toe tot nou in berusting
in onthou
.
wat het ek as dogtertjie geweet
kruipend deur hoenderpoothutte
my bolip dik bebloed geswel
sy het gesê ek moet vertel
ek het mos net geval
.
sy het my so verskriklik geslaan
eendag weer het ek ure moes sit
met haar gekookte boontjies
ná 'n Sondagdiens
huilend die hele middag deur
tot in die aand
altyd die verstandelike wanorde
die wreedheid in haar
haar seksuele aanrandings aan my, vir jare
en al die jare daarna:
my post-traumatiese skade
ek weet dit is moeilik om te glo
maar die skade is diep in my
dit lê wyd om my versprei, want ook:
in Lytteltonkerk is Oupa Vrot
verkragter van dogtertjies
se afskrikwekkende penis in volle ereksie
ingedra en afgeblaas
opgedroog en uitgedra
aartjie vaartjie waar’s hy nou?
pa se pa is uiteindelik
weggery
.
getroud, welaf, gee ek en ek gee
tiramisu en koekstruif
begrafnisbredie met lamsvleis
so dors vir my eie rivierstroom
al saam met die reënboog aan
vloeiend tot in die grote oseaan
.
met borskanker het ek die dood aanvaar
maar aangegaan, met lewenslus en moed
‘n nuwe tyd begin in chemobloed
wat help dit tog, al my geprobeer
daar was groot fout met my
hulle het lyk my gesien
dat ek aan angstoestande ly
nogtans het ek weer probeer werk
en weer is ek uitgewerk
hulle het dan seker geweet
ek het baie begin skryf
los hulle my toe net so
sonder geld sonder werk
‘n uitmergelende vernedering
wat aanhou en aanhou
met selfdoodgedagtes vir jare
.
die diep val in . depressie .
my psige word nou ‘n staatskliniek
by al daai verslae gevalle
het ek maar net weer
gesterf
gedehidreer, uitgehonger, kragteloos
dankbaar vir Helen Joseph se taai hartslag
waar vroue van ons land
vir my Kaapse vrugteslaai gee
Indiese kerriesampioene
"Never again, you hear!
To Church and Bible support.
Go!”
ek knik, maar dink, nee
vir my is daar geen erger
psigekundige metodes
as juis dit nie
toe’t ek gevoel dit was alles verniet
daar was ek steeds in die verskiet
skrywend in my skribbels dat ek
altyd so eerlik, ‘n eerbare tipe
die reine waarheid tik
.
maar dan droom ek my niggie skree op my
dat ek die grootste liegbek is wat bestaan
ek droom van almal en hulle skree op my
dat ek jok, dreig my met hofsake, maar ek
het my boek van herinneringe vól geskryf
omdat ek besig was om te vergaan
want die skade is diep in my
dit lê om my oral in die wêreld
wyd versprei
.
in 2014 was ek die weggooibrak
wat bôggerol korsies of hondebeen verwag
’n vrou vol smart
wat hurkend 'n halfvrot graad nul appel hap
ou tuna en rys uit my dooie kombuis
maak my naar op straat
my broek bruin gevloei
my voete brand
ek verkoop al my goed vir kos en vir wyn
met gebraaide hoender, dik aartappelskywe
dra ek desperaat my armoedige depressie
in die oë van die droë pap oggend
my bene dik swart ysterhout, ek val
met my olie-vis-maag op die gruis
ek hoor in 'n gaswolk my kinders roep
hulle lig my, lig my, lig my op
ek vind weer werk, gesond met slaai
ek kom weer op
nou weer sterker
en ek is weg op pad na myself
saam met my dapper Nori-praatmaat
my lugbries in wakkertye
tussen die niks en die drome
en die onderbewuste wat uitkom
as ys begin smelt in waterstrome
deur Kaapse berge en bome
.
weer als verloor, weer uitgehonger
steel ek bevrore wors uit daai man se huis
my werk begrawe bevries beblok pasop!
moenie die Boere bouleversé nie!
deur besete hingste van die ver reg goedhede
behoorlik aan die bek geruk
jaag ons, die hoewe spat! ek val nie af nie
kom wind! waai woes!
ons vlieg!
ek die Boere ontstel?
nee wat, nooit gesien nie
ons gaan voort in goedheid en gaafheid
en outydse goeie maniere
ons gee suiker vir die gereddes
ons gee reuse rooi appels
vir al daai besondere beseerde perdjies
gered van hongerte en mishandeling
ons gee begrip en meelewing
aan verwerpte vernederde gay mense
ten diepste beseer van hier
van dwarsoor Afrika
.
maar weer eens rol die buswiele met my na Endstraat
en weer ‘n keer word ek behandel
met goeie gebalanseerde etes nou
dit darem, met teddiebere en pannekoek
slapend op ‘n dun enkelbed
my jare in agterkamers
kry geen end nie
egter was dit nodig
om uit die huis des regse kristens te ontsnap
hulle homofobie was werklik geen grap
.
en daar, in Kwazulu-Natal
onder die rooi oggendson
loop ek rond by ‘n skoolterrein se Saterdagsport
en op die grond tel ek ‘n stuk sjokoladekoek op
deur 'n grade one soccer kid gedrop
ek eet dit
op
.
weer bietjie werk, gans te min
by nou ‘n Afrikaskool
en ek kyk nie meer weg van afvalkos nie
hoenderpote wat lyk soos bosdwergvrouxe
se afgekapte handjies
ek kyk nie meer weg van 'n vark se kop nie
ek eet dit, die goedkoop spiermagies
mielies op straat gebraai, oslewer met uie
daar lê selfs longe en harte en weet jy wat als
met pap en sout, die terrein buite op die grond
vol pis, kots en gemors
in vieslik vuil
Randburg Square
dit pla my nie, die mense verdra my gemoedelik
en ek verdra hulle aanvaardend, vriendelik
die omgewing is fotogenies armoedig
interessant-mooi in verval en veelkleurige
klere, komberse, kitskosse, pruike
die straatmark se goedkoop vrugte en groente
hulle voel my begrip aan, hulle is gaaf met my
ek stap die strate
eks nou so arm
eks basies bankrot
weer by die oulike Afrikaskool ook uitgewerk
my klavierstudio weggevat
vra jy my, ek skryf dit neer
ek tik elke dag joernale:
duisende woorde oor al die seer
dit was seker toneelspel, simulasie
mense kon werklik nie só min omgegee het nie
maar dit was baie sleg
dat dit weer en weer moes gebeur
ek kan dit eerlikwaar nie anders stel nie
dit was vernederend
en dit terwyl ek altyd so goed as musikus
my werk as musiekonderwyser
met liefde gedoen het
maar dalk was ek op ‘n oorlewingsvertoning
dalk was dit oor ek kon skryf, kon onthou
en dit plaas op die spektrum
van skade aan mense
dit was alles skokterapie
en later het ek in episodes
van huil en braking en verskrikking
alles onthou: van die kind in my
.
ek verdra die swaarkry alles
asof dit my eie toedoen was
probeer weer glimlag, gaaf wees
wat sou jý doen? mens oorleef tog maar
al die vernederings — en laat dit weer
gaan
dit is so dat dit aan my gedoen is
en dat dit op die ou end
sou help
wat verder, wat kon ek doen, net
stil word
onttrek
in denke
in stilte in
die waaier
se koel lug
alleen hier
in meditasie
uiteindelik veilig
om als te verwerk
om iemande in te lig
nuwe psigiatriese behandelings
skok- en swaarkryterapie vir beterskap
vir sterkte
dis al wat ek — lankal — kan dink
dat daar nog jare van sukkel was, met min
amper niks, ek was so ongelukkig
maar wat, ek is daardeur
dis niks teen Gaza se alle hel
se ontsaglike seer
.
ek het kos
ek het wyn
ek hou my hart van gode rein
en ek bly nou op hierdie plek:
Vrede
ek het genoeg van Verliesfontein gekry
tog, ek ook, kon altyd in swaarkry
opkrul in my skulp
in visualiserings en verhale ontvlug
regkom sonder veel hulp
want saans voer ek wortels
vir hasies wat in groen gras hop
soos Pa op die plafon van sy laaste hospi-taal
weer kind by sy ouma Lena se perskiebrannewyn
terug by Driefontein digby Skuilhoek digby Vrede
op Stilfontein
terug by Pa
voor hy, so stil sterf, weg
en hiermee dan net: Ōṁ
Pa rus nou: op Vrede
.
alles goed, want nou
is ek myself wat haar pad oop stap
‘n dosyn oesters gly in my keel af
nou ek kan sinne-vol sit
in die Suidson se geel room
van ‘n wyd oop verligte land
ek is nou wat ek gemis het:
'n versadigde hond
wat vrolik op die strande draf
'n gelukkige seemeeu
wat nie meer verhongerd kras nie
uit die huis des kristens het ek ontvlug
geen swaar bagasie meer op my sterk rug
en ek is terug in ‘n geliefde lesbiese land
‘n bos Wordsworth-affodille
in my hand
.
ek het 'n Weskuskampvuur sien gloei
'n ketel wat kook in opwaairook
gerooster in suurlemoensee
druppend op die sand
'n vet galjoen
sterk speel hy kitaar en ek sing
van korrels hexdruiwe in ons glimlag monde
so ryp so rond so soet so gesond
en ons soen as die skepe beweeg
gelaai met perlemoene, kreef en sardyne
en ook, dankie goedheid
met die Boland se edele wyne
sonsing die duine
uit die son het ryp perskes gekom
uit die son het ryp stemme gekom
sonrose, sonheuning
en sonneblomme sing
ons is wat ons is
en daaroor
sal ons
dig
🦋
© Annora Eksteen, 2025
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.