08/08/25

Indrukke

Vir die groeiende ronde maan:

eenduisend vyfhonderd woorde


van bitterheid  tot helderheid

toe tot nou in berusting

in onthou


.

wat het ek as dogtertjie geweet

kruipend deur hoenderpoothutte

my bolip dik bebloed geswel

sy het gesê ek moet vertel

ek het mos net geval


.

sy het my so verskriklik geslaan

eendag weer het ek ure moes sit 

met haar gekookte boontjies 

ná 'n Sondagdiens

huilend die hele middag deur 

tot in die aand

altyd die verstandelike wanorde
die wreedheid in haar
haar seksuele aanrandings aan my, vir jare
en al die jare daarna:
my post-traumatiese skade

ek weet dit is moeilik om te glo
maar die skade is diep in my
dit lê wyd om my versprei, want ook:

in Lytteltonkerk is Oupa Vrot

verkragter van dogtertjies

se afskrikwekkende penis in volle ereksie

ingedra en afgeblaas

opgedroog en uitgedra


aartjie vaartjie waar’s hy nou?

pa se pa is uiteindelik

weggery


.

getroud, welaf, gee ek en ek gee

tiramisu en koekstruif

begrafnisbredie met lamsvleis


so dors vir my eie rivierstroom

al saam met die reënboog aan

vloeiend tot in die grote oseaan


.

met borskanker het ek die dood aanvaar 

maar aangegaan, met lewenslus en moed 

‘n nuwe tyd begin in chemobloed


wat help dit tog, al my geprobeer

daar was groot fout met my

hulle het lyk my gesien

dat ek aan angstoestande ly 


nogtans het ek weer probeer werk 

en weer is ek uitgewerk


hulle het dan seker geweet 

ek het baie begin skryf


los hulle my toe net so 

sonder geld sonder werk


‘n uitmergelende vernedering 

wat aanhou en aanhou

met selfdoodgedagtes vir jare


.

die diep val in . depressie . 

my psige word nou ‘n staatskliniek

by al daai verslae gevalle

het ek maar net weer 

gesterf


gedehidreer, uitgehonger, kragteloos

dankbaar vir Helen Joseph se taai hartslag

waar vroue van ons land 

vir my Kaapse vrugteslaai gee

Indiese kerriesampioene


"Never again, you hear! 

To Church and Bible support. 

Go!”


ek knik, maar dink, nee

vir my is daar geen erger 

psigekundige metodes 

as juis dit nie


toe’t ek gevoel dit was alles verniet

daar was ek steeds in die verskiet

skrywend in my skribbels dat ek

altyd so eerlik, ‘n eerbare tipe

die reine waarheid tik


.

maar dan droom ek my niggie skree op my 

dat ek die grootste liegbek is wat bestaan 


ek droom van almal en hulle skree op my 

dat ek jok, dreig my met hofsake, maar ek 

het my boek van herinneringe vól geskryf

omdat ek besig was om te vergaan

want die skade is diep in my

dit lê om my oral in die wêreld

wyd versprei


.

in 2014 was ek die weggooibrak 

wat bôggerol korsies of hondebeen verwag

’n vrou vol smart 

wat hurkend 'n halfvrot graad nul appel hap

ou tuna en rys uit my dooie kombuis 

maak my naar op straat

my broek bruin gevloei

my voete brand

 

ek verkoop al my goed vir kos en vir wyn

met gebraaide hoender, dik aartappelskywe

dra ek desperaat my armoedige depressie 

in die oë van die droë pap oggend 

my bene dik swart ysterhout, ek val

met my olie-vis-maag op die gruis 

ek hoor in 'n gaswolk my kinders roep


hulle lig my, lig my, lig my op


ek vind weer werk, gesond met slaai

ek kom weer op

nou weer sterker


en ek is weg op pad na myself 

saam met my dapper Nori-praatmaat

my lugbries in wakkertye 

tussen die niks en die drome 

en die onderbewuste wat uitkom 

as ys begin smelt in waterstrome 

deur Kaapse berge en bome 


.

weer als verloor, weer uitgehonger

steel ek bevrore wors uit daai man se huis 

my werk begrawe bevries beblok pasop! 

moenie die Boere bouleversé nie!


deur besete hingste van die ver reg goedhede

behoorlik aan die bek geruk 

jaag ons, die hoewe spat! ek val nie af nie

kom wind! waai woes! 

ons vlieg! 


ek die Boere ontstel? 

nee wat, nooit gesien nie 

ons gaan voort in goedheid en gaafheid 

en outydse goeie maniere


ons gee suiker vir die gereddes

ons gee reuse rooi appels 

vir al daai besondere beseerde perdjies

gered van hongerte en mishandeling


ons gee begrip en meelewing

aan verwerpte vernederde gay mense 

ten diepste beseer van hier

van dwarsoor Afrika


.

maar weer eens rol die buswiele met my na Endstraat 

en weer ‘n keer word ek behandel

met goeie gebalanseerde etes nou 

dit darem, met teddiebere en pannekoek

slapend op ‘n dun enkelbed

my jare in agterkamers 

kry geen end nie


egter was dit nodig

om uit die huis des regse kristens te ontsnap

hulle homofobie was werklik geen grap


.

en daar, in Kwazulu-Natal

onder die rooi oggendson 

loop ek rond by ‘n skoolterrein se Saterdagsport

en op die grond tel ek ‘n stuk sjokoladekoek op 

deur 'n grade one soccer kid gedrop

ek eet dit 

op


.

weer bietjie werk, gans te min

by nou ‘n Afrikaskool 

en ek kyk nie meer weg van afvalkos nie

hoenderpote wat lyk soos bosdwergvrouxe 

se afgekapte handjies


ek kyk nie meer weg van 'n vark se kop nie

ek eet dit, die goedkoop spiermagies

mielies op straat gebraai, oslewer met uie


daar lê selfs longe en harte en weet jy wat als

met pap en sout, die terrein buite op die grond

vol pis, kots en gemors

in vieslik vuil

Randburg Square 


dit pla my nie, die mense verdra my gemoedelik

en ek verdra hulle aanvaardend, vriendelik


die omgewing is fotogenies armoedig

interessant-mooi in verval en veelkleurige

klere, komberse, kitskosse, pruike

die straatmark se goedkoop vrugte en groente


hulle voel my begrip aan, hulle is gaaf met my


ek stap die strate 

eks nou so arm

eks basies bankrot


weer by die oulike Afrikaskool ook uitgewerk

my klavierstudio weggevat

vra jy my, ek skryf dit neer

ek tik elke dag joernale: 

duisende woorde oor al die seer


dit was seker toneelspel, simulasie

mense kon werklik nie só min omgegee het nie

maar dit was baie sleg 

dat dit weer en weer moes gebeur

ek kan dit eerlikwaar nie anders stel nie

dit was vernederend 

en dit terwyl ek altyd so goed as musikus

my werk as musiekonderwyser 

met liefde gedoen het


maar dalk was ek  op ‘n oorlewingsvertoning

dalk was dit oor ek kon skryf, kon onthou

en dit plaas op die spektrum

van skade aan mense


dit was alles skokterapie 

en later het ek in episodes

van huil en braking en verskrikking 

alles onthou: van die kind in my


.

ek verdra die swaarkry alles

asof dit my eie toedoen was 

probeer weer glimlag, gaaf wees

wat sou jý doen? mens oorleef tog maar

al die vernederings — en laat dit weer 


gaan


dit is so dat dit aan my gedoen is

en dat dit op die ou end

sou help


wat verder, wat kon ek doen, net


stil word

onttrek

in denke

in stilte in

die waaier 

se koel lug

alleen hier

in meditasie

uiteindelik veilig

om als te verwerk

om iemande in te lig 


nuwe psigiatriese behandelings

skok- en swaarkryterapie vir beterskap

vir sterkte


dis al wat ek — lankal — kan dink


dat daar nog jare van sukkel was, met min

amper niks, ek was so ongelukkig


maar wat, ek is daardeur

dis niks teen Gaza se alle hel 

se ontsaglike seer 


.

ek het kos

ek het wyn

ek hou my hart van gode rein 

en ek bly nou op hierdie plek: 


Vrede


ek het genoeg van Verliesfontein gekry

tog, ek ook, kon altyd in swaarkry

opkrul in my skulp 

in visualiserings en verhale ontvlug

regkom sonder veel hulp


want saans voer ek wortels 

vir hasies wat in groen gras hop

soos Pa op die plafon van sy laaste hospi-taal

weer kind by sy ouma Lena se perskiebrannewyn 

terug by Driefontein digby Skuilhoek digby Vrede


op Stilfontein


terug by Pa 


voor hy, so stil sterf, weg

en hiermee dan net: Ōṁ


Pa rus nou: op Vrede


.

alles goed, want nou


is ek myself wat haar pad oop stap

‘n dosyn oesters gly in my keel af


nou ek kan sinne-vol sit 

in die Suidson se geel room 

van ‘n wyd oop verligte land


ek is nou wat ek gemis het:

'n versadigde hond 

wat vrolik op die strande draf 

'n gelukkige seemeeu 

wat nie meer verhongerd kras nie


uit die huis des kristens het ek ontvlug

geen swaar bagasie meer op my sterk rug


en ek is terug in ‘n geliefde lesbiese land

‘n bos Wordsworth-affodille

in my hand


.

ek het 'n Weskuskampvuur sien gloei

'n ketel wat kook in opwaairook

gerooster in suurlemoensee

druppend op die sand

'n vet galjoen


sterk speel hy kitaar en ek sing 

van korrels hexdruiwe in ons glimlag monde

so ryp so rond so soet so gesond 

en ons soen as die skepe beweeg

gelaai met perlemoene, kreef en sardyne

en ook, dankie goedheid

met die Boland se edele wyne


sonsing die duine


uit die son het ryp perskes gekom

uit die son het ryp stemme gekom


sonrose, sonheuning

en sonneblomme sing


ons is wat ons is

en daaroor

sal ons

dig


🦋

© Annora Eksteen, 2025

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.

My poësie-blog / My Poetry Blog

    Annora Eksteen Since brass, nor stone, nor earth, nor boundless sea But sad mortality o’er-sways their power, How with this rage shall b...