rondom ‘n Shonabeeld van Rapoko-seepsteen
onder kwartsiet-klippers, warm miere en lui akkedisse
lê die gebeente van my pa
aan die einde van 1975
het ons by die Zimbabwe-ruïnes rondgehardloop
die man gesien in sy luiperd-lendevel wat bene gooi
natgesweet hurk pa voor hom
nou ja, dit is ‘n toordokter
‘n waarsêer, ou Nokkie
in die rustige Afrika-ghang by Rhodes se rusplek
op die oop Matopo-heuwels sê pa vir my:
hier lê ‘n diep eensame man
in die kaal koppe ingesny
met ander in herinnering
deur die jare se son
en die briljantheid van elke nag
vanaf die Kaap tot by Kaïro
het my pa hulle lewens gelees
en ek bring hom terug na my
in die dood se ewige rou
in die vroegdag lig en dou
in die hartseer van onthou
oor die grys graniet van grafstene
val blougroen reëndruppels neer
gly nat voëls deur die water
terwyl hy versteen
diep in die aarde

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.