08/09/25

'n Fluit in die riet

Waarom te weenen in dit steenen woud?
Gij zult regeeren als gij weet te lachen.

Karel van de Woestijne

‘n ruk voor die einde
die dag toe ek so gehuil het
het ek die trein gehoor
‘n lyn op die horison
hartseer ontspoor

maar dan staan pa op Chomsky se stasie
hy verwelkom ons terug in sy wêreld

want veilig saam met hom
was ons gebêre in papiere, in tee
in tartankomberse, in ‘n duif in volle vlug
verpletter, verewig, teen ‘n venster afgedruk

ek dink soms aan pa
vrolik in die klokke
van Hanshan se Kouebergbokke
wat gaan stilstaan op ‘n dag
toe Carmiggelt begin lag

en ek sien weer vir pa
waar die klophartjie hang
aan die koerevol bekkevol
langnessiespriet

en ek speel weer my fluit
op pa se riet
met die soet kokkewiet
en die vlei se lied




🌿
Ter nagedagtenis aan LC Eksteen

🦋

© Annora Eksteen, 2025

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.

My poësie-blog / My Poetry Blog

    Annora Eksteen Since brass, nor stone, nor earth, nor boundless sea But sad mortality o’er-sways their power, How with this rage shall b...