Arthur Rimbaud, James Ramsey Ullman
dit was my sewentiende jaar
op pad hemel toe
wat sou ek onthou
wat sou ek dink
van sewentig jaar
op Afrikagrond
Ydrie wat bel
die kar het gerol
op ‘n stofpad verby Gobabis
Namibië se goue gras
ons vliegtuig wat land
Boetie Lottawien en ma
se gebreekte lywe in Karatara
Nerina ek en pa
wat ver oor die plaaspaaie staar
terug na Omitara Okomboeka
Owieniekieroe en Orogo se wintervlei
ek blaas op my fluit ‘n fraaie geluid
maar Dappies kom loer in en sê
nee ou nig wat ‘n rumoer
gaan daar na ou Els se stroois en speel
jou musieke kan jy met hulle deel
sou Jan Kloot jare later
in einste stroois kom rondkruip
met Béatrice et les enfants
om diep Suidwesstof en vuurrook te ruik
by Glenmore swem ma en tannie Anna
diep in die see
hoe groot is die strand
ons hardloop van die strandmeer
oor die uitgestrekte sand
was dit ons voetjies
wat so brand
terug in Lynnwood Glen
en ek lees weer ‘n boek
wat ek in pa se studeerkamer opsoek
far far I’ll go, alone, a wanderer
and life, the wide earth itself, will be my love
wens jy … sê ma
en gaan oefen jou klavier
ek betaal duur vir tannie Joyce
teen tien rand ‘n uur
pa
ek sien elke oggend tuis
hoe ‘n klip praat met sy skadu
rondom die witgekalkte huis
ma
kom nou julle kom dek af in die kombuis
en klim kinders in die kar laat ons ry
by tannie Ralie se plaas kan julle nartjies kry
onthou Louis sommer ook
by tant Mart se huishoudskool verby
sien julle — dis nou Bokfontein
en beter kinderdae kon ouma Liona nie kry
Lewies wou nog graag teen die aandwind staan
trots en allenig — ‘n man sonder naam
maar ai tog die kinders wat so kan raas
die hoenders die honde dit klink nes ‘n plaas
dis duiwe konyne dertien katte en ‘n koei
goeiste dink prof Ernst van Heerden
daai kanarie sing mooi
maar sit hom tog buite
saam met al die ander snuiters
dat ek hulle net kan sien
deur al die vuilerige ruite
een môre vroeg in die binnehof se son
staan tannie Toyce haar hare en opdoen
een lang lange vlegsel perfek en reg
en dan in ‘n bolla op
ek vra
vir vandag as dit kon
los die vlegsel om te hang in die son
uh uh sussie, lag sy
soos ek sê
dis wat die gemeente van Machadodorp
van mevrou dominee wil hê
my pa is wyd soos ‘n wye oseaan
en hoër as die berge anderkant die maan
ver baie ver kom hy vandaan
daar waar die gras in al hulle glorie staan
my ma is ‘n koor
wat álles wil hoor
van cantare’s tot trio’s
en alles tussendoor
dogters kom luister
dis musiek wat betinkel
wat toor en wat fluister
nes my tuin in die duister
dit was alles lank geleë
ons kleintyd se wel en wee
hier’s ons gebore en hier wil ons lê
pa en ma, dis al
wat ek wil sê
🦋
© Annora Eksteen, 2000
Ek en my dogter Li by Deltakafee Randburg in 2022 ↓

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.