11/07/25

Geluk

as ek vir jou kon geluk wens

skep ek vir jou bruisende borrelende bergwater 

vanuit die hooglande van uKhahlamba

sade van bont blommetjies bring ek vir jou

om te plant in jou tuin duskant Woepertal

en hoog in die berge by ‘n ou sendingstasie

koop ek vir jou ‘n Sederhout-juwelekissie


op Orochovley lê nog steeds ‘n Karakoelvelletjie 

van ‘n lammetjie wat ek help vang het

sag en weerloos gewieg het op die Landrover

ná dertig jaar skenk ek die velletjie 

gespalk deur Langman die Wambo

vir jou


en uit daai stoorkamer met reuke van bloed en diere geskiet

klim ek op die groot tafel en hak vir jou oom Foekoe 

se beste beesbiltong af 

ruik dit proe dit smul dit op

môre gaan ek nie saam op die jag vir ‘n Gemsbok nie

bly ek tuis by tant Jet in die kombuis 

en hou later vir pa dop waar hy skilder teen die muur van die skuur 

hoe Langman die Wambo die velletjies spalk 

van die lammetjies van die kraal wat ons 

op snerpende Julie-wintersoggende sou gaan haal

die lammetjies van Orochovley, Okombuka en Elsieskraal


my mooiste herinneringe skenk ek vir jou

as ek vir jou kon geluk

wens


🦋

© Annora Eksteen, 2006


Lourmarin-woonstelletjie, 2013

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.

My poësie-blog / My Poetry Blog

    Annora Eksteen Since brass, nor stone, nor earth, nor boundless sea But sad mortality o’er-sways their power, How with this rage shall b...