haar hartseer het verdwyn
en sy het gevoel of sy weer kan leef
na binne met haar slimme kop
en met haar warm hart wat vol passie
intellektueel-emosioneel reageer
in uitdrukking meestal net neergeskryf
soms stormagtig uitgedruk
in ‘n stortvloed woorde
in woede in vernedering
in doodsangs en louter vrees snags
in geïrriteerdheid oor die beknoptheid
van mense met hulle geite
wat so opmekaar moes leef
in die atmosfeer van die agterhuis
woelig was dit om haar
almal het besig gebly en daar was sy
met al haar baie onsekerhede en haar liggie
wat deur die lawaai van geweerskote brand
maar sy was soms in 'n innerlike wêreld
van rustigheid, reinheid
skoonheid en skryfkuns
.
ek wonder wat haar gedagtes was aan die einde
siek tot die dood toe, maar ons sal nie kan sê nie
of selfs begin om te voel hoe so 'n verskrikking
mense kan afbreek tot in die abjekte in nie
om dit te sien en dit te beleef
maar ek dink, sy het toe geweet
sy sal dit nie oorleef nie
die newelige wêreld het sy betree
en wasig in ‘n koma
het sy weggesink
siek tot die dood toe op 15 jaar oud
dit was ondraaglik in Bergen-Belsen
die verliese was onberekenbaar
die vernietiging
sy is sommerso
vermoor
met hierdie woorde
probeer ek verby
die wreedheid
en lyding kyk
om haar te kan sien
wit-grys duif, lig-blou wolk
waar sy saam met haar sussie
hoog bokant ons aanhou dryf
op, op opgelos
in die wye oop lug
weg, weg
weg met die wind


.jpg)
.jpg)
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.