15/07/25

Liewe Kitty: so het sy geskryf en

wanneer sy geskryf het, kon sy alles afskud
haar hartseer het verdwyn
en sy het gevoel of sy weer kan leef
na binne met haar slimme kop
en met haar warm hart wat vol passie
intellektueel-emosioneel reageer
in uitdrukking meestal net neergeskryf
soms stormagtig uitgedruk
in ‘n stortvloed woorde

in woede in vernedering

in doodsangs en louter vrees snags

in geïrriteerdheid oor die beknoptheid
van mense met hulle geite
wat so opmekaar moes leef
in die atmosfeer van die agterhuis

woelig was dit om haar
almal het besig gebly en daar was sy
met al haar baie onsekerhede en haar liggie
wat deur die lawaai van geweerskote brand

maar sy was soms in 'n innerlike wêreld
van rustigheid, reinheid
skoonheid en skryfkuns

.
ek wonder wat haar gedagtes was aan die einde
siek tot die dood toe, maar ons sal nie kan sê nie
of selfs begin om te voel hoe so 'n verskrikking
mense kan afbreek tot in die abjekte in nie

om dit te sien en dit te beleef
maar ek dink, sy het toe geweet
sy sal dit nie oorleef nie

die newelige wêreld het sy betree
en wasig in ‘n koma
het sy weggesink
siek tot die dood toe op 15 jaar oud
dit was ondraaglik in Bergen-Belsen

die verliese was onberekenbaar
die vernietiging

sy is sommerso
vermoor

met hierdie woorde
probeer ek verby
die wreedheid
en lyding kyk
om haar te kan sien
wit-grys duif, lig-blou wolk
waar sy saam met haar sussie
hoog bokant ons aanhou dryf

op, op opgelos
in die wye oop lug

weg, weg
weg met die wind



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.

My poësie-blog / My Poetry Blog

    Annora Eksteen Since brass, nor stone, nor earth, nor boundless sea But sad mortality o’er-sways their power, How with this rage shall b...