ek is nog op ons moeë ryk planeet
gesondheid goed leef redelik wel
bly dat ek nog my stories kan vertel
dan weet ek in my wese dat as ek sterf
vier fees drink lekker wyn
dalk is dit op ‘n blougroen reëndag
begrawe my in eenvoud
geen diens my liefstes net ‘n stil afskeid
prentjies van silfe en vlinders en wolke
op my goedkoop dennehoutkis
in ‘n graf met klippe en geharde plante
laat my dooie liggaam so vergaan innie aarde rus
en groet my op ‘n blougroen reëndag
verbeel my voorts in ruimtelike skoonheid
vryswewend op ‘n ligte bries
of aan die speel met vrolike dolfyne
in riviere van veraf eilande
skitterend in ‘n daglig son
of mistig
op ‘n blougroen reëndag
as ek steeds gesing word
op note van voltooide woorde
huil dan uit in rou verdriet
en lag daarna groot asseblief
onthou
om te geleef het was vir my genoeg
groet my dan in finale verlies
in daai vroegoggend daglig son
of op daai blougroen
reëndag

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.