30/08/25

Aan die einde het my pa

ek het gedroom hy sit voor my
sy vingers op sy wang, sy duim op sy ken
diep aan die dink en ek kon hom vra
vertel vir my van pa se kinderdae

hy het net na my gekyk
‘n effense glimlag
op sy gesig

aan die einde het my pa
in sy wit doodsbed gelê

ek het sy koue voorkop gesoen
uitgestap in die nag en gedink

ek voel so swaar my bene kan skaars
die gewig dra, maar ek sien pa daar
in 'n groot biblioteek in die lug

en so gesels hy steeds met my
vanuit sy reuse-studeerkamer

en so is dit met heimwee dat ek hier neerpen
hoe hulle Julie-vakansies in die ysige donker vroegoggende
in Prieska met ‘n stoomtrein uit Windhoek aangekom het

hoe hy skryf van ‘n kaggelvuur se rooi kole op die stasie
en hoe hulle saans Koegasmyn se asbesstof
laat styg het soos hulle tiekiedraai en rondspring
saam met die klanke van die koddige ou pianola

en so vertel my dierbare dooie pagoed
steeds vir my van sy swaar
arm droë ryk

kinderdae

🌿

Ter nagedagtenis aan Louis C Eksteen

20 Oktober 1930–13 Oktober 2001


🦋

© Annora Eksteen, 2025

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.

My poësie-blog / My Poetry Blog

    Annora Eksteen Since brass, nor stone, nor earth, nor boundless sea But sad mortality o’er-sways their power, How with this rage shall b...