10/08/25

Borskanker Refleksies 5

net ‘n rukkie se chemoterapie


al is die kanker in my destyds weg, onthou ek

die vrees vir metastase, vir terminale lyding
en in hierdie land, hoekom ons nog nie

die keuse van Dignitas kon kry nie


terug na chemo-behandeling destyds in 2004

hierdie middels wat selverdeling afskakel


die behandeling van siekte

deur die gebruik van chemiese stowwe

veral die behandeling van kanker

deur sitotoksiese en ander middels

wat selle beskadig of vernietig


want die gevaarlikste is dat die kanker kan versprei

daarom moet die hele liggaam behandel word

in sistematiese terapie waarvan hormoon- of endokrieneterapie

‘n deel is van en nodig is vir hormoon-sensitiewe gewasse


endokriene afgelei van die Griekse terme endo

wat binne beteken, en kriene, wat beteken om af te skei


afskeidingsprodukte van endokriene kliere is hormone

en word direk in die bloed deur die liggaam gedra

waar hulle slegs selle beïnvloed wat reseptorplekke

vir daardie hormoon het


adjuvante of bykomende terapie beteken 

die behandeling met chemikalieë is toegedien 

nadat die kanker uit die bors en oksel se kliere verwyder is

die middels wat meestal in gevalle soos myne gebruik word 

is antrasikliene, bekend as die rooi duiwel, en taksane


en nou, met soveel informasie ingeneem

haal ek darem meer weerbaar asem 

in my weefsels se wondletsels


so dankie Liefentjiefontein

dankie Besitwater en Matjiesgoedkloof
dankie Stofputs van Droëgrond in die land van ǀXam

dankie pagoed in jou kisgoed vir jou diggoed


ek het julle eergister beloof

ek sal nou ophou kla

ophou net 


wil doodgaan


🦋

© Annora Eksteen, 2025




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.

My poësie-blog / My Poetry Blog

    Annora Eksteen Since brass, nor stone, nor earth, nor boundless sea But sad mortality o’er-sways their power, How with this rage shall b...