10/08/25

Borskanker Refleksies 4

brandwaglimfknoopbiopsie


dit is belangrik in die behandeling van borskanker

om te weet wat in die limfknope aangaan


die brandwaglimfknoop waar kankerselle eerstens

in sal dreineer, is geëvalueer tydens my mastektomie


.

maar toe ek die woord: brandwag hoor, het ek gedink 

aan Hamlet en die sneeuwind wat yskoud gewaai het

op die skansmure van Elsinore-kasteel

waar die weer weggedraai het van sy sorgvrye dae 

en in veranderde troebel lug 

oortrokke geraak het van vuigheid

en hy het verlang, o hy het verlang

na sy goeie pa


.

tydens my mastektomie, is daar

met ‘n kerngeneeskundige tegniek 

deur ‘n fyn naaldaspirasie 

limfnodeselle verkry vir ontleding


‘n week later sak ek op die vloer neer

en al wat ek hoor is die uitslag 

van die patologieverslag

soos ‘n hol voetstap 

op die voordeurtrap


.

okseldisseksie daarna

was die verwydering van ‘n blok weefsel 

met nodes in die vetkussing 

waar die limfstelsel beskadig is en

waar senuwees toe dood is in die proses


— maar ek was later skoon van kanker —


hoe moes ek geweet het

ek was van altyd af psigologies siek

maar toe, van kanker was ek gesond

en skoon soos my lewe altyd was

skoon soos my geslote wasige verstand


skoon, rooskleurig en mooi

soos alles altyd vir my was 

met bloubessies, bosbessies

aalbessies en madeliefies

suikerbekkies, patryse 

en wildsbokkies, skugter nadergelok 

deur my mooi stem, my fluit 

en my kitaar


daar was ‘n tyd toe ek klavier gespeel het

‘n tyd toe ek musiekkinders onderrig het

‘n tyd toe ek in kerke gesing het

soveel tye wat ek by vensters uitgestaar het


terwyl kerkklokke gelui het, het vrouens tee gedrink 

met mans wat staan en dink, dink hulle, ja-nee

uhum, dominee Du Preez, jou asem ruik taamlik beleë


maar ek het al hoe meer net belang gestel

in dit wat die harde waarheid is


en tog pretensievol aanhou saamdobber 

in lieflike musiek se verbeelde realisme 

en toe het ek, heel op my gerus vertel


ek is lesbies, vloeiend vrou, beskadig

ek het werklik gedink dat teen dié tyd 

van die 21ste eeu van die Algemene Era

dit met almal, ongeag wie ook al, oukei is


maar die teepotte het geroes 

terwyl hulle gesmul het aan potjiekos

kīnnōrs het gekraak 

nadat ek Va Pensiero kon dirigeer


gemaalde Swarovski-kristal 

het ek seer afgesluk, my gorrelgat 

gesny, my stembande beseer                  

en ek kon nie, om my lewe te red

oor hulle verwerpings kom nie


ek kon nie daaroor kom nie


.

nou: juffrou An is nie spyt

dat sy nie sal kan kom nie

na die troues in die kerke

van verwerpings


baie teer … uit die verte:


dryf uit, dryf stil uit, dryf

gly saam in stil wolke, gly

tot alles oor die verste sneeuberge 

in die verste verskiet in die niet in verdwyn


die kruipende verskyning van die openingsteks


dit het glad nie goed gegaan

met haar nie


die verdwynende dofwordende afsluitingsteks


… effens terughoudend ...


dit het glad nie 

goed gegaan

met haar nie


.

maar nou


maak gou my gedagtes

maak gou op goue vlerke


en gaan rus in woude

waar sonlig flikker

en warm en geurig

sagte briesies


beweeg


🦋

© Annora Eksteen, 2025


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.

My poësie-blog / My Poetry Blog

    Annora Eksteen Since brass, nor stone, nor earth, nor boundless sea But sad mortality o’er-sways their power, How with this rage shall b...