brandwaglimfknoopbiopsie
dit is belangrik in die behandeling van borskanker
om te weet wat in die limfknope aangaan
die brandwaglimfknoop waar kankerselle eerstens
in sal dreineer, is geëvalueer tydens my mastektomie
.
maar toe ek die woord: brandwag hoor, het ek gedink
aan Hamlet en die sneeuwind wat yskoud gewaai het
op die skansmure van Elsinore-kasteel
waar die weer weggedraai het van sy sorgvrye dae
en in veranderde troebel lug
oortrokke geraak het van vuigheid
en hy het verlang, o hy het verlang
na sy goeie pa
.
tydens my mastektomie, is daar
met ‘n kerngeneeskundige tegniek
deur ‘n fyn naaldaspirasie
limfnodeselle verkry vir ontleding
‘n week later sak ek op die vloer neer
en al wat ek hoor is die uitslag
van die patologieverslag
soos ‘n hol voetstap
op die voordeurtrap
.
okseldisseksie daarna
was die verwydering van ‘n blok weefsel
met nodes in die vetkussing
waar die limfstelsel beskadig is en
waar senuwees toe dood is in die proses
— maar ek was later skoon van kanker —
hoe moes ek geweet het
ek was van altyd af psigologies siek
maar toe, van kanker was ek gesond
en skoon soos my lewe altyd was
skoon soos my geslote wasige verstand
skoon, rooskleurig en mooi
soos alles altyd vir my was
met bloubessies, bosbessies
aalbessies en madeliefies
suikerbekkies, patryse
en wildsbokkies, skugter nadergelok
deur my mooi stem, my fluit
en my kitaar
.
daar was ‘n tyd toe ek klavier gespeel het
‘n tyd toe ek musiekkinders onderrig het
‘n tyd toe ek in kerke gesing het
soveel tye wat ek by vensters uitgestaar het
terwyl kerkklokke gelui het, het vrouens tee gedrink
met mans wat staan en dink, dink hulle, ja-nee
uhum, dominee Du Preez, jou asem ruik taamlik beleë
maar ek het al hoe meer net belang gestel
in dit wat die harde waarheid is
en tog pretensievol aanhou saamdobber
in lieflike musiek se verbeelde realisme
en toe het ek, heel op my gerus vertel
ek is lesbies, vloeiend vrou, beskadig
ek het werklik gedink dat teen dié tyd
van die 21ste eeu van die Algemene Era
dit met almal, ongeag wie ook al, oukei is
maar die teepotte het geroes
terwyl hulle gesmul het aan potjiekos
kīnnōrs het gekraak
nadat ek Va Pensiero kon dirigeer
gemaalde Swarovski-kristal
het ek seer afgesluk, my gorrelgat
gesny, my stembande beseer
en ek kon nie, om my lewe te red
oor hulle verwerpings kom nie
ek kon nie daaroor kom nie
.
nou: juffrou An is nie spyt
dat sy nie sal kan kom nie
na die troues in die kerke
van verwerpings
baie teer … uit die verte:
dryf uit, dryf stil uit, dryf
gly saam in stil wolke, gly
tot alles oor die verste sneeuberge
in die verste verskiet in die niet in verdwyn
die kruipende verskyning van die openingsteks
dit het glad nie goed gegaan
met haar nie
die verdwynende dofwordende afsluitingsteks
… effens terughoudend ...
dit het glad nie
goed gegaan
met haar nie
.
maar nou
maak gou my gedagtes
maak gou op goue vlerke
en gaan rus in woude
waar sonlig flikker
en warm en geurig
sagte briesies
beweeg
🦋
© Annora Eksteen, 2025
.jpg)
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.