10/08/25

Borskanker Refleksies 3

my linkerbors-mastektomie


op ‘n taamlike lopende tempo 

is ‘n reeks X-straal-foto’s geneem 

en ek lees van Wilhelm Konrad Röntgen 

verdiep in sy proefneming, en ek sien ‘n foto

van sy vrou, Anna Bertha, se handskelet

met haar eienaardige ringe van trou 

sigbaar aan haar slank vingerbeen 


nou teer wordende in die musiek


diagnostiese X-beelde 

van my binneste was skoon

maar my linkerbors 

moes geamputeer word


op ‘n langsaam slepende tempo 

kon ek uiteindelik wegsink in narkose

met weer die versekering van 

‘n uitstekende prognose


net ‘n sny onder my linkerbors

‘n tweede een bo my tepel

die vel wat opgelig word

die borsweefsel en tumor verwyder

die snye dan toegemaak

een litteken gelos

met ‘n mooi resultaat


— asimmetrie val esteties op in kuns — 


en in my was niks spyt 

oor ‘n verlore bors nie


effens terughoudend en sensitief oordenkend

sal ek my brose gevoelens stil hanteer

luisterend na die eerste simfonie van Mahler

deursigtig in die verdeling van die orkestrasie


in sangvoëls se liedere hoor ek seisoenmodulasie

dan hier, dan daar, op takke gewaar

langs ‘n berghut by ‘n meer

waar die briljante komponis 

musiek sit en komponeer het


met goud in die mond van die oggendstond 

koekoek ‘n klarinet vir 'n cor anglais

silwer fluite en ‘n skitterende trompet


‘n sprankel van timpani 

smelt sneeu van die hoogste piek 

en tjello’s dra hartverwarmende waterlyne 

rimpelend oor in die verglaste kristal 

van die vroeg lentelug


'n kontrafagot 

wat net gelukkig deur die lewe wou skyn

met bang lippe om ’n dubbelriet

in tong-artikulasie fyn

op blaaie vol note 

lees ek elke aanduiding in Duits

beleef  ek weer in klanktekstuur: 

my onsekere pyn

diep in die musiekmanuskrip 

se orkeslaag op laag


diminuendo


sagter wordend

nou baie sag


seksueel het ek lankal 

in ysmis verdwyn



🦋

© Annora Eksteen, 2025


Mahler 1 Score

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.

My poësie-blog / My Poetry Blog

    Annora Eksteen Since brass, nor stone, nor earth, nor boundless sea But sad mortality o’er-sways their power, How with this rage shall b...