my linkerbors-mastektomie
op ‘n taamlike lopende tempo
is ‘n reeks X-straal-foto’s geneem
en ek lees van Wilhelm Konrad Röntgen
verdiep in sy proefneming, en ek sien ‘n foto
van sy vrou, Anna Bertha, se handskelet
met haar eienaardige ringe van trou
sigbaar aan haar slank vingerbeen
nou teer wordende in die musiek
diagnostiese X-beelde
van my binneste was skoon
maar my linkerbors
moes geamputeer word
op ‘n langsaam slepende tempo
kon ek uiteindelik wegsink in narkose
met weer die versekering van
‘n uitstekende prognose
net ‘n sny onder my linkerbors
‘n tweede een bo my tepel
die vel wat opgelig word
die borsweefsel en tumor verwyder
die snye dan toegemaak
een litteken gelos
met ‘n mooi resultaat
— asimmetrie val esteties op in kuns —
en in my was niks spyt
oor ‘n verlore bors nie
effens terughoudend en sensitief oordenkend
sal ek my brose gevoelens stil hanteer
luisterend na die eerste simfonie van Mahler
deursigtig in die verdeling van die orkestrasie
in sangvoëls se liedere hoor ek seisoenmodulasie
dan hier, dan daar, op takke gewaar
langs ‘n berghut by ‘n meer
waar die briljante komponis
musiek sit en komponeer het
met goud in die mond van die oggendstond
koekoek ‘n klarinet vir 'n cor anglais
silwer fluite en ‘n skitterende trompet
‘n sprankel van timpani
smelt sneeu van die hoogste piek
en tjello’s dra hartverwarmende waterlyne
rimpelend oor in die verglaste kristal
van die vroeg lentelug
'n kontrafagot
wat net gelukkig deur die lewe wou skyn
met bang lippe om ’n dubbelriet
in tong-artikulasie fyn
op blaaie vol note
lees ek elke aanduiding in Duits
beleef ek weer in klanktekstuur:
my onsekere pyn
diep in die musiekmanuskrip
se orkeslaag op laag
diminuendo
sagter wordend
nou baie sag
seksueel het ek lankal
in ysmis verdwyn
🦋
© Annora Eksteen, 2025


Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.