10/08/25

Borskanker Refleksies 2

‘n diagnose

in ‘n langsaam slepende tempo, met mediese personeel
wat rondspoel soos skulpe in ‘n seepoel

en in die verte, Mahler-woudhorings in dubbelderdes
roepend deur mis, stemme oor ‘n biopsie

verward bevrees, lê ek met ‘n naald in my linkerbors
toe alles begin prik

.
ek onthou dat die oggend flikkers muf geword het
en toe, in my naarte, swart geswem het

ek was aan die agteroor slaan
yskoud het ek flou geword
dood

.
maar die volgende oggend was geel
vol sonskyn en betablokkers gesluk vir my angs
vir die stukkend gooi, brutaal breek
van bruin gespikkelde goed verdoeselde kiewiet-eiers

die angs oor my eerste dood
my hoeveelste dood

die vrees vir ‘n hol naald om in my te gly
om stukkies weefsel uit te kry
om dit laboratorium toe te vervoer

om uiteindelik te vergestalt in kanker
hanteer uiters versigtig

.
al was ek nie later veel deel van die lewe nie
kon ek ons kinders sien grootword
vry in denke, straatwys
mooi volwasse, slim en sterk

ek kon hulle anders, sekulêr, sien trou
sien werk, privaat, sien asemhaal in vryheid
vars asem in wolke vol vrede, vol vriende
aanvaarding in liefde
tussen ons

met Nishikigoi vol lewe, blink en glad
in ‘n plaasdam springend, silwerwit plonsend
vol blyheid dié spelerige visse
soos ons vir hulle kossies strooi

innemende jong visse, roospienk, oranje-rooi
wanneer gaan julle uit my hand uit eet?

ek moes leer om nie my lewe as so ligtelik te beskou nie
ek moes nog lank studeer om waarde van suiwer goud
in myself en myne te sien

maar ek kon my liefietjies sien grootword
in al die kleure van ons tyd
in al die kleure wat weggeval het

kan Koikarpe seer byt?
kan hulle uit my hand uit eet?
sou ons vir die kinders ons woorde los?

🦋
© Annora Eksteen, 2025


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.

My poësie-blog / My Poetry Blog

    Annora Eksteen Since brass, nor stone, nor earth, nor boundless sea But sad mortality o’er-sways their power, How with this rage shall b...