toe onder die Suiderson
’n bruinbokkie gebore is
in ou apartheid Pretoria
skugter en bang
sou sy haar fluit begin speel
onder die wilgers
van die Mooirivier
in ‘n Suid-Afrika tweede millennium
sou sy ver en verder swerf
met as geselskap
‘n klavier en kitaar
waar ’n eensame kombers
haar warm omhels
waar klippe en klanke
in die winters haar troos
in onherbergsame jare
toe seisoene stadig sou gly
wat haar sou voorberei
op ‘n kalmer lewe
eendag sou Safier die tyding bring
in wigskrif op kleitablette gegraveer
‘n vredesverdrag soos van weleer
die wind deureen met snare weer
dan sal die goue lint
ons saam verbind
as die klokke sal lui
en ons opstaan
🦋
© Annora Eksteen, 2025
VREDESKLOKKE is ‘n verwerking van een van die gedigte uit ERFENIS UIT PERGAMON deur Louis Eksteen (1930–2001).
Ek het ongelukkig die bondel nagelate gedigte gaan staan en verloor en nou weet ek nie meer mooi hoe die oorspronklikes daar uitgesien het nie. Dit was op ‘n ou gmail-rekening en ek moes dit uitgewis het. O. En die ander storie. Van my horribale jaar in 2014 toe ek ALS verloor het. My huis het as’t ware afgebrand.
Ek moes die swaar bagasie oor die krans smyt.
Eks maar bly nou, want eks nou moeg gewerk aan my pa se erfenis uit Pergamon.
Hy rus nou lankal in vrede al was hy soms in ergenis in my nagdrome oor ek nou so behoefte gehad het om 'n 70 van sy gedigte vir myself volgens my eie poësiestyl te verwerk. Ja. Dit het hom met ‘n moedeloosheid gestem daar ek nie altyd sy ingeligte taalgebruik snap nie.
Hy het maar daaroor gekom siende dat dit gehelp het ter genesing van my wonde. Hy stem mos saam dat die menslike altyd in die kuns moet bly en in die taal ook.
Eks anyway nie gek soos hy oor ou Griekeland nie, maar daai Leros-eiland in die Dodekanisos klink vir my koel. Klink heeltyd vir my soos die dodekafonie van die twaalftoonsisteem. Elk geval. Die sewe versierde waterfonteine en die windmeulgastehuise waar almal vriendelik ontvang word voel vir my soos vars nuwe briese. Of mens nou Grieks kan gooi. Of nie.
ERFENIS UIT PERGAMON © Eksteen-gesin is ‘n ongepubliseerde digbundel en gevind ná sy afsterwe. My sus het seker nog die manuskripte en ook van sy novelle DIE BEWONERS VAN DIE BINNEBERG. Met haar gesondheid gaan dit tans nie goed nie, sy moet nou net rus en beter word, so ek laat rus alles nou in vrede sodat ek deur my ander gedigte, lesbiese liefdesverhale en memoir weer wil werk waar my pa dan weer aan die bod kom in my kreatiewe artistieke spel van woorde, musiek en verf. Dan wil ek ophou skryf.
In die kreatiewe ruimte van gedigte skep wil ek my nie weer begewe nie. Dit het my al by waansin laat omdraai.
Genoeg.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.