09/09/25

Ek ry Mzansi-taxi's

maar daar is nie sprake van afstand behou nie
al die pad mental health toe en doodmoeg terug
met my medikasie
en my emosionele pyne
of wat noem hulle dit nou weer
die geeste wat in ou wonings woon
spoke dood wat my lewe omsoom
in rymende kwatryne en odes aan wyne

maar ek haal asem in ‘n helder herfsdagdroom
teken mandalas, maak my gedagtes skoon
drup-drup-druppels word wyndruifblou
grondgrafte is grou en lê rou in die dou

ek werk voort 
aan my verstandelike gesondheid nou
.
‘n jong vrou van waarde
haar liggaam lig laat sak
maer, soos die van ‘n bejaarde
en daar is sy nou in Wespark
in my geliefde Johannesburg-aarde
.
‘n ouer vrou is in Februarie oorlede
vaarwel toegewuif, hoog op die stil top
van Ntabazwe Platberg

haar geliefde seun drink bloedcabernet
speel kitaar en hy sing
van nooit weer sal hy
vir sy Harrismith-ma
in haar rystoel
kan rond rinkink 
nooit weer sal hy vir haar
so lekker kan terg 
en so goed vertroos nie
.
my mooi dogter het kovidkoors gekry
in haar lyf en bors, in hartkloppings en asemnood
darem ‘n vrolike beterboodskap van haar
terwyl satelliete flikkerend daar bo verby gly

mense verdwyn
in herfsbriese, in stilswye
.
met soutpap, met mielies
met pilchards, met geen wyne nie
werk ek aan vele lewenstydlyne
die donker terreine
van geloofskade in my gemoed
my wese so lankal van gode

behoed

Annie 2020–2021, in covid-tyd

maar ek dra nou weer
my mediese maskertjie in die winkels
en nog nie weer 'n klein griep opgetel nie
ek dink dit help! 
dink daar dryf baie kieme rond
en ek word net ouer 
en is maar versigtig met my
immuunstelsel

🦋🌿

© Annora Eksteen, 2025





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.

My poësie-blog / My Poetry Blog

    Annora Eksteen Since brass, nor stone, nor earth, nor boundless sea But sad mortality o’er-sways their power, How with this rage shall b...