09/09/25

Toe ek soos altyd net verby stap

onthou ek die arme ou tante met ‘n boggel
haar opgooi in ‘n hospitaalskottel
ek onthou ‘n doodsroggel
toe ek in Helen Joseph Hospitaal
dit weer uit ‘n kamer hoor

toe ek so stil soos altyd net verby als stap

ek het darem op ‘n stadium kon loop
in wingerde se klam leemgrond
die groeikrag van hektaars wye wynkorrels
was ook ‘n bitterheid in my eensame musikale mond

‘n boeket van frankbessies op my palet
so ryp en rond, so donkerpruim-gesond
was my wandeling op Wildekrans by Botrivier

van ver sien ek die silhoeëtte van Kaapse kothuise
toe ‘n trekkerwa verby my ry
so rustig sy geraas tussen die druiwetrosse
tussen die gastewonings van die groot landgoed 
tussen die skaduwees, langs die plaasskool verby

toe ek so stil soos altyd net verby als stap

steeds kelk die sonneblom met oggenddruppels dou
steeds ruik vars-pienk roosknoppe mistigvroeg koud nou

en as ek stap in ‘n Linden herfs
hoor ek die voëltjies se liedjies
en sien ek ‘n nuwe naam helder
op ‘n muur geverf

toe ek so stil soos altyd net verby als stap

Die stokou omie se muurtjie oorkant Deltapark, 2021
Toe kon hy nie meer nie en is die ou huis verkoop, lock, stock and barrels of wine in the pantry.














🦋🌿

© Annora Eksteen, 2025

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.

My poësie-blog / My Poetry Blog

    Annora Eksteen Since brass, nor stone, nor earth, nor boundless sea But sad mortality o’er-sways their power, How with this rage shall b...