09/09/25

Toe my ouma dood en begrawe is

het ons in die somerson gespeel
en Arios het ons agter op sy swart fiets laat ry

die ou vrou wat my aan my armpie pluk
af in die gang, kyk kind, sy's dood, sê sy

bedompig en skemer, en op die bed was alles wit
en lakens was oor my ouma in haar nagkebaai gesit

haar gesig so stroef, so grys, so styf
sy het so pas gesterf

en ek wat taai voel, vuil en bang
terug in die deprimerende, krakerige houtvloer gang
tot in die sitkamer waar 'n gedempte bedruktheid hang

soveel mense se asems en tannie-parfume se wasems
een probeer 'n konfyttertjie in my toegeperste mondjie druk

jou ouma was so lief vir soet, proe, 
dis nog warm uit die oond

ek wikkel my uit haar omhelsing
ek hardloop uit na die perskes buite
wat vrotterig pap op die grasgrond lê en versuiker

ek onthou 'n stadige stoet wat beweeg in die skerp son
ek onthou om die graf was baie vrouens met hoedens
en mans in swart pakke, dié dag toe my ouma begrawe is

ek sien roosblare val — af in die graf
ek sien 'n dogtertjie met blonde lokkies en 'n wit gepofte rokkie
viooltjies in 'n papierdoilie val uit haar gehekelde handskoentjie
en dwarrel neer — terwyl ek staar na die fraai klein boeket
wat bo-op die groot kis gaan lê het

nou wens ek dat ek vir ouma Hendrina kon sê
toe sy daar op haar antieke houtbed
dood in haar frilletjies bedkappie lê

ek hou nie van ouma se appelkooskonfyttertjies nie
nie van al die soet fyngebak
en al die verdere begrafniskak


In memoriam, Ouma Hendrina, 1965

🦋🌿

© Annora Eksteen, 2025


Ouma Hendrina

Annora, sussie Karin, niggie Annemie en nefie Cilliers

1964



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.

My poësie-blog / My Poetry Blog

    Annora Eksteen Since brass, nor stone, nor earth, nor boundless sea But sad mortality o’er-sways their power, How with this rage shall b...