17/07/25

Bergvroue van Mnweni

vertel vir my julle verhale

hier waar ek langs die ou rivier hurk

julle sing julle kom van die plek van rookwater

van die bron van die Tshwelarivier

julle sing julle kom van die ou berge

waar die edelvalke hulle neste skrop


met julle kaalvoete fyn

julle lywe wat in die maanlig skyn

het julle baardaasvoëls agter bergspitse

sien verdwyn


met julle klere van blare en lang modderhare

het julle in die mis van Maletsunyane

op wilde ponies gery


daar het julle met julle bokke rondgewei

en vir hulle julle stories vertellend voorberei


daar het julle 'n heuwelhut gebou

om vir klein Buksie by julle veilig te hou


tussen heide en huls

tussen veldgras en wilde vullens

kon hy gesond word en speel

met modder mors soos ‘n kind weer


en smiddae laat as bont soos ‘n reënboog

‘n sonsondergang oor julle groen bergland hang

het julle vir hom ou stories vertel in sang


in my riethut snags

sal ek julle weses leer verstaan

en deur die spoelwaterliedere

my diep dors les

ek — riviervrou digteres


oor julle brose naaktheid

sal ek my rivierarms slaan

tot waar ons reisend

oor die plek van groot lawaai gaan




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.

My poësie-blog / My Poetry Blog

    Annora Eksteen Since brass, nor stone, nor earth, nor boundless sea But sad mortality o’er-sways their power, How with this rage shall b...