29/08/25

Amiens

Die oggend vroeg in Amiens, weerkaatsend in die vywer, 
het seuntjies in die water, dun vissies uitgehaal. 

Toe het eeue verdwyn, die stad ’n vlakte, 

en op 'n heuwel 

het ‘n kerk begin verskyn.


Boumeesters beplan die dag se werk. 

Bouers begin uit tente op die laagte stippel, 

dra swaarskouer tussen kruie en stof 

aan balke, kalk- en sandsteenklip. 

Rus nou op een, dan die ander been, 

dan verder op teen hierdie hoogte in Picardië

waar hulle ’n meester kom dien met growwe hande,

gewillige knieë. 


Met ’n rookwaas oor die stad staar ek dié môre. 

Ek dink verby torings en roosvensters aan – 

wat is woorde dan wat span oor pylers en pilare, 

oor ligstrale wat buig deur vensterrame 

en sag rus op koor, transepte en altare. 


Wat is hierdie plek wat oor die eeue sou bid.


Beelde op die buitefasades verbeeld die ou belydenis 

en tel so die jare maande ure 

voor die groot herrysenis.

 

Hier staar ek dié môre 

in die donker en helder woning 

van u mure.


🦋

© Annora Eksteen, 2025.


AMIENS is ‘n verwerking van gedigte uit die digbundels ‘N FLUIT IN DIE RIET, Nasionale Boekhandel, 1963 en VERSE VAN ‘N LANDLOPER, Voortrekkerpers, 1969 asook SKUILHOEK, Perskor, 1982 deur Louis Eksteen (1930–2001).


© Eksteen-gesin

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.

My poësie-blog / My Poetry Blog

    Annora Eksteen Since brass, nor stone, nor earth, nor boundless sea But sad mortality o’er-sways their power, How with this rage shall b...