29/08/25

Bloudood op Niekerkshoop

my tante en my oom
was tuis op hierdie dorp

hulle’t van dag tot nag gelewe
hy’t asbes gemyn
sy’t skoolgehou

en Betgoed was haar helpgoed

elke winter met die kooltrein uit Windhoek
drie-uur soggens het ons gearriveer
op Prieska se koue stasie
met die bloedrooi kaggelvuur

ons het ’n kuierlank plesierig hier gebly
met Pietgoed en sy fyn hand vir die speelgoed
ruiterbal en overs, kennetjie en ellierous
bok-bok, hopscotch en malie, maar

antie Annie het swaar gehoes in die nag
oom Wilsie het kortasemrig geproes
met die botteltjies wat gereed staan
versorg deur Jangoed met sy plantjies
ou Jangoed en sy veldgoed

tog, saans het die stof gestyg soos ons dans
op die maat van die ou pianola
gevoer met gaatjiesmusiek
ai, die walse die danse
en al daai draaigoed

maar ai, al te gou was als verby
ja, die maaier was daar
in die stof in die myn
en orals, elke jaar

saggies gesus in haar rokgoed
het Betgoed eerste heengegaan
toe Pietgoed hande oor die bors gekruis
toe Jangoed in sy lêgoed

en eendag lans die stowwerige groen sipres
is ant Annie in haar kisgoed weggebêre
maar eers ná haar geliefde Wils
gevel deur die fyn asbesgoed

maar vir ons was daar, in die goeie ou dae
die draai en die swaai
op die maat
van die ou pianola

🦋

© Annora Eksteen, 2025


BLOUDOOD OP NIEKERKSHOOP is ‘n verwerking van een van die gedigte uit ERFENIS UIT PERGAMON deur Louis Eksteen (1930–2001).


Dit is ‘n ongepubliseerde digbundel en gevind ná sy afsterwe.


© Eksteen-gesin

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.

My poësie-blog / My Poetry Blog

    Annora Eksteen Since brass, nor stone, nor earth, nor boundless sea But sad mortality o’er-sways their power, How with this rage shall b...