oom Boetse was die koronel
hy’t daagliks sy geweer gepoleer
sy stewels eweneens man
kon jy jou gesig sien daar
in die blink spieël van sy boetse
met neuste van die beste leer
die kapitein was omie Wes
hy’t die hele kompanie gevat
en hy’t hulle laat marsjeer
in ’n groot, ’n vierkante blok
dié dag toe met die vliegtuig kom
die groot baasman
die swaar snor
brigadier
ons was ’n eenheid groot en sterk
met Boetse heel vooraan
dan oom Wes was kapitein
en ek, was korporaal
en die kompanie op die paradegrond
het met singende sawels, kletterende gewere
en boetse wat blink van blinkste leer
in gelid, so flink, voort gemarsjeer
en ek, was korporaal
toe, dié dag, ’n slag
toe val die Tiger Moth
met die hoë offisier
die swaar snor brigadier
net oorkant die paradegrond
in die droë tamboekiegras
en ek, was korporaal
by die kajuit wat brandend rook
kom ons vir redding daar toe aangestook
die koronel oom Boetse, oom Wes die kapitein
en ek, was korporaal
maar in die stuurkajuit lê die brigadier
sy swaar snor aan die brand
met die appel van sy linkeroog
wat sissend stomend kook
in die holte onder die ruigte
van sy wenkbrou aan die stook
hy lyk nou erger as ‘n spook
en ek, die korporaal, het als gade geslaan
en bleek van die flou ineengestort
in geheel neergevoeter in die vuur, in die as
in die als, was ek gedaan
so was alles ook verby
die oorlog en die boetse
en ek, as korporaal
🦋
© Annora Eksteen, 2025
EN EK, WAS KORPORAAL is ‘n verwerking van een van die gedigte uit ERFENIS UIT PERGAMON deur Louis Eksteen (1930–2001).
Dit is ‘n ongepubliseerde digbundel en gevind ná sy afsterwe.
© Eksteen-gesin
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.