op ‘n graspol langs ‘n meer
sy was soos 'n wit swaan wat verskeur is
met haar noodroep langs ‘n meer
deur almal verlaat
want haar vriende het haar gewaarsku
gesê sy moes hom laat gaan
hulle was niks geroer
en niks geraak
deur haar gesing oor haar psige
haar gedempte gekwaak
skok haar rond in terapie
kry haar in beheer
vertellend narratief
in linguistiek
niemand steur hulle
aan haar skok, haar snik
haar alewige skrik
haar doodsroep daar
op ‘n graspol langs ‘n meer
sy
die swaan
haar vere verdrink in 'n bloedrooi
kol
haar gebroke lyf op 'n groen gras
pol
gestol langs die meer drup dit van reën
oor die slank nek van 'n swaan
gevou in rou
haar oë grys
en grou
en toe kom die groot onthou en nou
kan sy vertel van 'n geheue uitgewis
in afgryslike smart weet sy in swart
ek is
ontsettend
erg
beseer
maar die hooglandman
met sy kasteel op 'n wilde stuk sand
het vertrek op sy boot
na die uithoeke van die land
met sy trommel, sy lang pyp
en ook sy hoed in sy hand
om die duurste dokters te betaal
om die skugter bang swaan
waar sy lê in haar bloed
met haar doodskusgroet
te gaan haal, te behandel, te genees
om weer gesond
te kan wees
haar gewebte voete stukkend geloop
haar vlerke kon nie meer sweef
vernederend om tussen ganse eende
arm makoue, astrante hadedas
selfs 'n afvlerk onnosel papegaai
wat nie kon ophou praat en lawaai
van al die swaarkry raak sy toe taf
sy sluk al die pyn en vernederings af
die selfdoodgedagtes, die armoede
die depressie en mishandelings
die antwoorde op vraelyste
om die verstand en liggaam
van 'n seergemaakte swaan
te verstaan
dit het alles met my gebeur
ek is vir alles bang
ek is broos, beskadig en baie beseer
ek wou nie teruggaan in herinnering nie
ek het alles uitgeblok
ek het nie geweet nie
ek het niks begryp nie
en toe kom klein en kil
leidrade, een vir een
snellers en skakelaars
die een na die ander
en dit sny in flitse, in foto’s en films
in ondraaglike pyn
tot histerie toe geskok in die wete
wat werklik gebeur het
in die seksuele aanrandings
haar senuwees stukkend
haar maag aan die brand
in rou borrels bloed en skuim
die ou huis se deure gebreek
alles staan oop in die donker nag
die dubbeldeur hout voordeur is skeef getrek
die slot is gebreek die sleutel is weg
dis stukkend gebreek en die twee stukke
klap oop en toe
oop en toe
.
ek probeer alles dig toetrek
maar die swaar skuiwende glasdeure
omring met gesmede staal
sit vas en kan nie meer toeskuif nie
oor die oop gaping is al wat nog daar hang
die ketting deur die twee handvatsels
met ‘n slot toegesluit, maar die koue wind
waai onheilspellend daardeur
die deur van die waskamer is die gevaarlikste
dit is heeltemal stukkend
en kan nooit weer reggemaak word nie
inbrekers kom in
die een na die ander
hulle skeur deur die mure
hulle spring deur die dak
hulle bulder in die donker gang af
hulle verdwyn net so vinnig
soos wat hulle verskyn het
die huis is verlate dis net ek daar alleen
in nagte van wanhoop
in droë snikke al weer
wat deur my lyf skeur
in tam bedompige lug en tragiese verlatenheid
terwyl donker ink afdrup oor die wang
van die groen heks in die skildery
as soggens nog 'n beker koffie-sigorei
in my moeë keel afgly
deur die nimmereindigende stiltes van die nag
deur die hunkering na skulpe in die sand van die see
as ek deur vuil strate stap in die dag
en ek word so siek, so siek, al hoe sieker
my kankerwond ontsteek in my bors
drup die chemo in laat ek self besluit
oor my dors na eerlikheid
die waarheid rein en vry
in my en uit en dan verby
laat ek besef dis tyd om myself' toe te sluit
'n individuele invalide met opvlieënde bipolariteit
sluk dit af op Epilim Propanolol
Olenzapine Redilanz
Phenergan Quetiapine
en slaap slap in slaap
met wingerdgodinne
genadiglik weg
in rus en diepe stil
stilte
dan weer 'n episode
van staalklampe om my longe
my asem weg
en dan weer kom my stem
in brullende huilkrete van leed
dit kan nie waar wees nie
het dit alles met mý gebeur?
hou in hou uit hou aan
in vipassana-meditasiemetodes
van asemhaling en konsentreer
hou dit vas, blaas dit uit
ontspan en probeer weer
deur dae en nagte deur
tel ek tot tweehonderd
nog ‘n keer en weer en weer
bedaar ek en kom in beheer
dat ek my gemoed rustiger kan kry
my breingolwe dan stabieler kan bly
dat ek kan beter word, dat ek
die gruwelhuis uit my kop kan vee
die seer uit my oë kan was
.
dat die swaan kon opstaan
haar webvoete genees
dat sy weer kon liefhê
dat sy weer kon wees
.
haar vriende het gesê dat sy hom moes vergeet
maar sy het hom onthou in oggendmis en dou
sy was 'n wit swaan wat verskeur is
met net haar doodsroep langs ‘n meer
maar nou kyk sy dikwels
vanaf die hoogste heuwel
of sy haar bootman kan sien aankom
in die terugkerende gety
die man van die boot
wat nou baie gelukkig is
sy wit swaan kan weer vlieg
sy kan weer dans
in die wind
my boot geliefde
'n liefdevolle afskeid
waar jy ook al mag gaan
ek sal op die uitkyk bly
vir die terugkerende gety
🦋
© Annora Eksteen, 2017 – 2025
Demensie
Annora, 2024
Ek was geïnspireer deur Fear a' Bhàta (Die bootsman), 'n Skots-Gaeliese liedjie uit die laat 18de eeu deur ‘n onbekende digter. Ek het al baie psigologies ontsettend siek geraak die afgelope twee dekades. Ek het verwerkend daaromheen geïmproviseer, is verryk daardeur en kon met nuwe moed voortgaan en beter word, selfs genees begin voel solank ek my lewe rustig en stil hou so ver as wat dit moontlik is en nie te sieldodend is nie.

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.