29/08/25

Dialoë tussen stiltes, op Driefontein

ek luister elke oggend tuis

hoe ‘n klip praat met sy skadu

rondom die witgekalkte huis


ek sien die bloekomblare eenstemmig roer

in patrone op die fynklip van die werf


‘n windpomp gier en draai

saam met skreewiele van ‘n trekker se lawaai


hierdie durende gesprekke tussen skaduwee en blare

die korrels gruis, die dun slak in sy huis

hang in klankverbande in die lug


en ek sweef ná die bui blou reën 

bokant die geelblom 

bokant die sydisselstingels

verblind 


geskroei van die wêreld af


🦋

© Annora Eksteen, 2025


Dialoë is ‘n verwerking van gedigte uit die digbundels ‘N FLUIT IN DIE RIET, Nasionale Boekhandel, 1963 en VERSE VAN ‘N LANDLOPER, Voortrekkerpers, 1969 asook SKUILHOEK, Perskor, 1982 deur Louis Eksteen (1930–2001).


© Eksteen-gesin

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.

My poësie-blog / My Poetry Blog

    Annora Eksteen Since brass, nor stone, nor earth, nor boundless sea But sad mortality o’er-sways their power, How with this rage shall b...