29/08/25

Plaasdans op Driefontein

die aand toe ons op Driefontein dans

toe was ons o so jolig

Petrus op sy baskitaar

ou Goudkop op sy vedel


ja, dit was die outyd nog

met musieke uitgesoek

Niklaas op sy banjo’tjie

Jan Skeeftrap op die ô-rel


ja, dit was die vroeë tyd

toe ant Malie nog vetkoek kom voorsit

met boeretroos swart gegooi 

uit haar ou voortrekkerketeltjie


tot oom Sarel Bokkies vir myn en dyn

mampoer ’n bekervol nou intap

van Boskop se rokende en hellerwit

perskiebrannewyn


dan mos 

deurdruk dagbreek toe


dan mos allie pad

bálke toe


ja, het ons nie op Driefontein gedans nie

ai, ons was toe o, so jolig


maar toe’t die jongklomp anners beginne trap

die bop die swing die twist die jazzbrildraers

het platgevee met hale op ’n trom

die ritmeseksie met simbale 

van die nuwe popse craze


rock en roll en toe net rock 

en slaan wragtag daai trom 

neuk goed daai staalkitaar

en praatsing mompelend van beibê 

die enigste een

vir my


skreesing bedwelm die nag vaarwel uit koebaai


wie sou toe dan nou ooit kon weet

dat die donkerte sou kom

die donkerte, die vaalte

so ook met die plaas

al sy bewoners al sy gaste

in die daggazôl versuf

die staalkitaar verroes 

met hierie wêreld wat ai

so psigedelies was


ai man!


maar maanligaande speel nog plaasmusieke

gedenkend aan die tyd verby


toe ons ai, tog te jolig was

en Driefontein uitgedans het


🦋

© Annora Eksteen, 2025


PLAASDANS is ‘n verwerking van gedigte uit die digbundels ‘N FLUIT IN DIE RIET, Nasionale Boekhandel, 1963 en VERSE VAN ‘N LANDLOPER, Voortrekkerpers, 1969 asook SKUILHOEK, Perskor, 1982 deur Louis Eksteen (1930–2001).


© Eksteen-gesin

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.

My poësie-blog / My Poetry Blog

    Annora Eksteen Since brass, nor stone, nor earth, nor boundless sea But sad mortality o’er-sways their power, How with this rage shall b...