25/08/25

Die arme ou professor in linguistiek

die wind toor vanmôre weer
met Jakarandablomme
op die teer

hy ry die ligpers lanings deur
en gaan parkeer langs die afdak 
onder die afbek karee

stap met sy boeksak die Merensky verby
tot by sy kantoor onder die klimopboog

daar tas hy rond
tussen omsendbriewe, roosters
lesingnotas
hy vat stukke geel papier
en hou sy gesig goed stil
as hy oor die leiklip stap
tot in die kampusklas

dan begin hy teoreties raak
onder die jongmensstink se geroesemoes
want beter as hy weet hierdie spul

het is een misgroei, een ontzaglijke verarming
wanneer het begrip losgemaakt word van het leven


want die eerste ding is mos om die taal te ken
dan kan jy jou gedagtes in woorde bring
met woorde kan jy ‘n wedstryd wen
en ‘n blom, soos ‘n voël
‘n lied laat sing

want die lewe pols bloed, veral in my vak
wat groei en verval soos selle in my lyf
dit word aanhoudend nuut
en trillend soos ‘n senuwee
skiet seine, gee geboortes, groei

ons kan die taal nie losmaak 
van die menslikheid nie
ons moet ons deur taal
innerlik vryer kry
vir persoonlike ontwikkeling

steeds aanwezig behoort te zijn
de totaliteit van de persoonlijkheid


ná ‘n kwartier is hy verstrik in sy eie windsels
en begin hy vir homself
‘n louwarm whiskie skink

my taal is jonk
die groeilote wild
en ek is geensins lus
vir snoei nie

hy weet hy’s uitgepraat en maak sy gedagtes bymekaar
skuifel deur toe en hy’s uit oor dieselfde leiklipplein
terwyl rekenkundige oë op sy rug boor
soos hy krom sy verslete boeketas vasgryp
in sy ou grys Mini klim en met ‘n sug
is hy terug deur die Jakarandas
na sy plek

sy huis 
sy so boeke
paradys

🦋
© Annora Eksteen, 2025


MY PA DIE PROFFIE is ‘n verwerking van gedigte uit die digbundels ‘N FLUIT IN DIE RIET, Nasionale Boekhandel, 1963 en VERSE VAN ‘N LANDLOPER, Voortrekkerpers, 1969 asook SKUILHOEK, Perskor, 1982 deur Louis Eksteen (1930–2001).


© Eksteen-gesin

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.

My poësie-blog / My Poetry Blog

    Annora Eksteen Since brass, nor stone, nor earth, nor boundless sea But sad mortality o’er-sways their power, How with this rage shall b...