en glip met muisvaal eggo’s deur die deure
dis bergwinde wat sweterig stof opjaag
en op sy boeke lymend plak
‘n bitterheid verroes sy mond
in hierdie motorrykdomstad
uitgestrek voor sy oë sluip ‘n maer swart hond
hy slaap nie meer nie
sy rus deur bros gaatjies deur die sink geprik
hy is vasgeklem teen krummels roet
terwyl die nag leegloop oor die klowe
en die engtes van die smal kanaal
vroeër, wilder
‘n rivier
nou dun en vuil na die hawe vloei
om hol skepe uit te klop met die oggendgety
uiteindelik ontsnappend
na die see
sy woorde slaan hy met ‘n ligte knuppel
teen die verrotte plank en afgevrete sinkplaat
van die huis hier op die rand van Steenmakerskloof
waar woonstelle in lang drelle hang
oor afgronde grys gemartelde klip
sal in die nagte as hy wakker lê
‘n konterdans nie spookliedere voor sy venster speel
‘n geraamte uit ou rame tokkel
dat hy op ‘n oop kol met ou geeste heul
wat hom op groen blare en gruis
terugvoer na Driefontein se bywonershuis
waar geel okkerneuthout en konfoor
‘n ouma uit die es uit toor
kan ‘n hart ooit suiwer wees?
op watter skarniere draai die deur?
by watter lig word ‘n boek gelees?
🦋
© Annora Eksteen, 2025
SINKHUIS is ‘n verwerking van gedigte uit die digbundels ‘N FLUIT IN DIE RIET, Nasionale Boekhandel, 1963 en VERSE VAN ‘N LANDLOPER, Voortrekkerpers, 1969 asook SKUILHOEK, Perskor, 1982 deur Louis Eksteen (1930–2001).
© Eksteen-gesin
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.