27/08/25

Handewerk

my oupa het vroeg al planne geteken
huise die een na die ander
wat steeds talryk daar staan
in dorpe en stede

te vroeg bouer – The Builder’s Encyclopaedia.
te min besigheidsman – Rekenkunde vir standerd 6
self geleer – heretjie, op standerd 3 al uit die skool –
maar later tog sy ambag meesterlik behaal

waarom moes hy aan meisies vat

toe verskeie kere in die Groot Depressie
bankrot gespeel
hy was faljiet het oumagrootjie Lena gesê

steeds weer orent gekom met ‘n nuwe huis
‘n gebou met tallose vensters, vertrekke, verandas

my pa se ma, ouma Mieta
pa het haar mammie genoem
het gesorg dat daar kos is uit niks nie
soms moed, ook uit niks nie
om by te wees met brood
met skaapvleis in ‘n doekie
‘n fles warm tee

tog het hy weer homself te buite gegaan

die planne, die werf, die bouery alles netjies
vir die kwaadgeid van die munisipale amptenaar
en die naywer van die bou-inspekteur
wat suurderig fout wou soek
en nooit ‘n gles kon vind nie

nou, ná vyftig, sestig jaar, nog ouer hier en daar
staan oupa Vrot se huise soos monumente
maar gebruik en goed bewoon

en so vat die hout en panne, die huisgesange
die baksteenmure, die loodraamvensters
‘n stukkie tyd vas

elke bousel ‘n persoonlikheid
‘n warm woning vir mense met stemme wat lag
wat huil

ag, waarom die swakte
waarom die voos, vrot kol

waarom dogtertjies seksueel aanrand

die dae wat dig toe en benoud was vir ons
vol onsekerheid en vrees

en wanneer snags die uil met hol hoehoe
die stoflikheid van die mure laat wankel
het die bome getril van sterflikheid

hy moes eendag pad kies
my pa kon hom nie langer verdra nie
hom die huis uitgejaag
ons het hom nooit weer gesien nie
hy het te veel oortree

waarom die skande
waarom die geheimhouding
en die stiltes

waarom só

elke woning bly steeds staan
maar die krake beweeg deur die riete
in die dor klipsteenharde wind

en in die nagte
ween weer ‘n keer
die onskuld

van ‘n kind

🦋
© Annora Eksteen, 2025

HANDEWERK is ‘n verwerking van een van die gedigte uit ERFENIS UIT PERGAMON deur Louis Eksteen (1930–2001).

Dit is ‘n ongepubliseerde digbundel en gevind ná sy afsterwe.

© Eksteen-gesin

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.

My poësie-blog / My Poetry Blog

    Annora Eksteen Since brass, nor stone, nor earth, nor boundless sea But sad mortality o’er-sways their power, How with this rage shall b...