my grond is droog geploeg
verbrokkelde blare dans
soos ou feë in die lug
en agter die rante staan hoog en groot
met hulle dam oë
hulle gesperde neusgate
die grys beeste
hulle snuif die poeierstof
hulle kom uit die leegtes
en trap hulle horinghoewe oor my huis
hulle skud die bloekoms
hulle slinger hulle lang stamme
in die yl-beaarde lug
in die vaal newels van die nag
kom daar
die groot grys beeste
hulle trap die water
snuif ou winde
hulle bulk
hulle spore verstuif om my erfgoed
hulle styg op
hulle krys met die swart kraaie
hulle horinghoewe klap op my huis
in die newelige grys lig van die môre
oor die stof en grond oor die lug en die rante
storm daar
die groot grys beeste
van ou verdriet
.
maar ‘n windpomp draai
dun strale roggel uit my pyp
die water uit die onderrots
die water uit die klipbank
gooi weer ‘n nat spoor
dun strale roggel uit my pyp
die water uit die onderrots
die water uit die klipbank
gooi weer ‘n nat spoor
deur my akker
🦋
© Annora Eksteen, 2025
DIE GRYS BEESTE VAN OU VERDRIET is ‘n verwerking van gedigte uit die digbundels ‘N FLUIT IN DIE RIET, Nasionale Boekhandel, 1963 en VERSE VAN ‘N LANDLOPER, Voortrekkerpers, 1969 asook SKUILHOEK, Perskor, 1982 deur Louis Eksteen (1930–2001).
© Eksteen-gesin
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.