waar ysterklip voeg met kwartsiet
oor dagsome tussen gras
oor dun skeure langs ‘n skag
waar fyn bore deur klipkerns byt
oor werkers wat was aan vergruisde erts
dit smeltend in goue brode giet
en oor tuine in Parkview en Linden
waar die grootse digter eens kon woon
draai steeds egte voëls
van die Witwatersrand
geleidelik leer ken ons die trae kors van hierdie land
geleidelik leer ken ons die trae kors van hierdie land
en sien in steenkool, mangaan, platinum en diamant
is daar altyd die een wat voorloop
die een wat eerste daar is by die soom
is daar altyd die een wat voorloop
die een wat eerste daar is by die soom
van elke draaddun aar
tot dit in ‘n sierwerk van minerale
fyn vervorm
tot dit in ‘n sierwerk van minerale
fyn vervorm
tot ‘n kunstige chroomfiligraan
want aan hóm kleef die stoffies van heldere goud
in sý oë weerkaats die donkergranaat van piroop
hy kap die rotse, breek gange uit die berg
die wêreld onder
maak hy oop
want aan hóm kleef die stoffies van heldere goud
in sý oë weerkaats die donkergranaat van piroop
hy kap die rotse, breek gange uit die berg
die wêreld onder
maak hy oop
🦋
© Annora Eksteen, 2025
In memoriam
NP van Wyk Louw (1906–1970)
KLIPWERK is ‘n verwerking van gedigte uit die digbundels ‘N FLUIT IN DIE RIET, Nasionale Boekhandel, 1963 en VERSE VAN ‘N LANDLOPER, Voortrekkerpers, 1969 asook SKUILHOEK, Perskor, 1982 deur Louis Eksteen (1930–2001).
© Eksteen-gesin
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.