hier maak sy stoof en waarsku
die pre’kant is hier ou man
dan weer verkners haar tong heel goed oor ou tant Skalk
wat lapkomberse sit werk op haar sonstoep met haar vink
en vrugteloos skree op die gekoggel van kwajongs
oor die dorp se rykes, oor die voordoen, die mooidoen
lê als ‘n geborduurde blerts
knipoog skerts sy tandeloos langs die korenteverjaardagkoek:
hier waar die gras in sy glorie staan
het Kain vir Abel doodgeslaan!
kinnertjies kinners, kom dan nou, die sonne laat los, kyk!
dáár kommie duiwel innie ploegland aangeploets
hy seil op sy pens hy’t sy swart mackintosh aan
hy jaag sy dissipels laddie stof so staan
wel-wel hy’s reg-reg en hy slaan merrie sweep
van toe af groei die sônne die jele mielieland vol
kos genoeg sôre hy, dies nou maar klaar
sewe tarentale en ‘n mal hoennerhaan
‘n taai skaap ‘n vetsous ‘n koek vol heuningstroop
en gate vol as wat smeul innie sônnige sandhoop
sy slawe werk, hulle werk lat dit bars, sy eenoog bobbiejaan
sy koggelpoppiegaai sy stomstert aap en ou gek Magriet
wat voorie koolstoof op haar houtbeen staan ’n roer
algar werk lat dit gons lat dit rumoer
want hy kom aangeseil die jele mielieland deur
met sy pluiskeil op sy dop
van ‘n blonnegrys kop
drie dra water anner gooi nat
een steek ‘n anner
merrie gaffel innie gat
daar kom ou satang oorie mielieland gejae
hy pot got ‘n hou
merrie graaf oorie blad
so staat op julle kniege en bit larrit klap
die duiwel kom angewiel en hy’s duiwels sterk
en hier waar die gras in alle glorie staan
het Kain vir Abel
morsdoodgeslaan!
🦋
© Annora Eksteen, 2025
In memoriam: Magdalena Isabella Eksteen Eksteen (1871–1947)
My oumagrootjie wat in haar graf onder Volksrustgras lê omdraai en kraak.
OUMA LENA is ‘n verwerking van gedigte uit die digbundels ‘N FLUIT IN DIE RIET, Nasionale Boekhandel, 1963 en VERSE VAN ‘N LANDLOPER, Voortrekkerpers, 1969 asook SKUILHOEK, Perskor, 1982 deur Louis Eksteen (1930–2001).
© Eksteen-gesin
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.