14/09/25

Gedig in April

die oggende het gewink met watergedagtes
windmusiek en kosmosse wat wieg in die park

jare en jare van alleenheid in denke in konsentrasie
met aartappels, rys, hoendervleis, soms oesters en garnale

die stil vieringe van my verjaardae
die wyn en 'n slaappil deur al my verdere jare sedert 2001

die films fraai, die diep slaap wat dit bring
en môre is ook dit, weer verby

ek kan net nie ontspan nie, want ek bly bang
nie vir kritiek op my soi-disant skrywe nie

my sogenaamde Franse taalstudies
beteken wel iets wonderliks vir my

maar gespanne oor hierdie ingrypende speletjies met my
ek ly aan erg post trauma oor dít ook nog aan my gedoen

van die jare vanaf 2006, tot nou toe, wát kan dit tog wees
of is dit óók maar waarmee ek moet leef ná als, vir altyd

ek probeer nog steeds om my dae as goed te beskou
elke dag so vervul en so veilig as moontlik 

ek weet hoe, dis denke, dis dissipline
ek probeer weer en weer berus daarmee

en deurdruk weer, dis roetine in die aanvaar
dis nou maar soos dit is, glimlag altyd weer en wees gaaf

ek het darem baie by die see gaan stap lank terug
kan seker sê iewers was daar wel water en seevoëls om my

ek het al oor die wit perde gesweef
en plekke in Oktoberbloed sien lê

die sonlig wat soms syfer deur die boomblare
het nuwe gelykkenisse gewys

ek het die dogtertjie in my se hand gevat 
en vertel

daar was legendes van reierpriesters op seepkiste
groen katedrale met oop blou vensters

voëltjies wat daar uit vlieg
na wolke daar buite in die lug

die als van jare het weer in my gedagtes gesing
toe ek op 60 weer verjaar het

in April

Toe ek Fettuccine Alfredo geëet het by Lucio's Pizzeria saam met ons kinders in 2021.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Let wel: Slegs 'n lid van hierdie blog mag 'n opmerking plaas.

My poësie-blog / My Poetry Blog

    Annora Eksteen Since brass, nor stone, nor earth, nor boundless sea But sad mortality o’er-sways their power, How with this rage shall b...